GEORGE NUUS - Talent van vyf skole in die streek het op 15 September by Hoërskool George bymekaargekom vir My Passie My Kuns, 'n gesamentlike kultuuraand wat musiek, dans, drama en kreatiewe uitdrukking gevier het.
Voor die konsert het die jazzorkes van Hoërskool George opgetree en die gehoor met 'n musiekoptrede verwelkom.
Elke skool kry op 'n beurt om as gasskool vir die kultuuraand op te tree, en vanjaar was dit Olympia Vaardigheidskool se beurt. Die kultuurkomitee en leerderraad van Olympia het die gaste verwelkom en bygedra tot 'n aangename en suksesvolle aand.
Die program het leerders van Carpe Diem Skool, Van Kervel Skool, Olympia Vaardigheidskool, Eljada-Kairos Skool en Oudtshoorn Vaardigheidskool saam op een verhoog gebring.
Carpe Diem se ensemble het met 'n marimba-orkes begin, waarna die koor liedjies soos Gratitude, Jantjie en 'n Mafikizolo-keurspel aangebied het. Die dansprogram het onder meer hip-hop, neo-klassieke, Ierse dans, Afrika-kontemporêre en straatdans ingesluit. 'n Gebaretaal-uitvoering van True Colors was ook deel van die program.
Carpe Diem Skool. Foto: Munro Photography
Van Kervel se ensemble het instrumentale items, poësie, sang en dans gekombineer, met optredes soos Für Elise, Die Varkie, Colors of India, Stay, Roar en The Prayer.
Eljada Kairos se ondersteunings-dansgroep het Skuilplek, Jail Break en Song of Hope aangebied.
Lhivithriano Kammies en Marquin Jantjies tydens Van Kervel se instrumentale opvoering. Foto: Munro Photography
Oudtshoorn Vaardigheidskool se Dare to Dream het temas van drome en hoop verken met items soos Droom Groot, Van'n Droom tot Goud en Drome Bring Hoop.
Oudtshoorn Vaardigheidskool se kultuurgroep.
Fotograaf: Munro Photography
Olympia Vaardigheidskool het Between the Lines aangebied, 'n produksie oor Lena, 'n bejaarde vrou wie se eenvoudige roetine om wasgoed op te hang, 'n reis deur herinneringe aan liefde, verlies en die verlede word.
Die hele rolspelers van Between the Lines opgevoer deur Olympia se kultuurleerders. Foto: Munro Photography
Die produksie ondersoek herinnering, rou en familie, en die ruimte tussen die stories wat mense vertel en die waarhede wat ongesê bly.
Die aand het verskillende vorme van artistieke uitdrukking op een verhoog saamgebring en leerders uit uiteenlopende onder-wysomgewings die geleentheid gebied om hul talente te deel.
Die hoofkarakter Lena, gespeel deur Gillian Elbrink van Olympia Vaardigheidskool.
- Saamgestel deur Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’