SKOOL NUUS - ’n Visioenêre plan om ’n onafhanklike leersentrum vir kinders van Golden Valley in Blanco op die been te bring, is besig om momentum te kry.
Die projek, Elpida - die Griekse woord vir hoop'- is die visie van Alette Marais, stigter en uitvoerende hoof van Love Looks Like Something, ’n nie-winsgewende organisasie wat reeds meer as ses jaar in die Golden Valley-gemeenskap werksaam is.
“Die droom het oor die jare uit Love Looks Like Something se werk hier ontwikkel. Ons kon net nooit grond kry nie,” vertel Marais.
Die organisasie is tans in onderhandelinge met ’n kerk om grond direk langs die gemeenskap aan te koop.
“Die ligging is nie aantreklik vir beleggers nie, maar vir ons is dit perfek omdat dit binne loopafstand van ons kinders is en genoeg ruimte het.”
Die Elpida-projek bestaan uit drie hoofkomponente: ’n kleuterskool, ’n vernuwingsfasiliteit (“renewal hub”) vir laerskoolkinders en ’n hoërskool.
Die eerste fase van die hoërskool sal fokus op meisies tussen graad 8 en 12, met plek vir tussen 150 en 200 leerders. ’n Seunshoërskool vorm deel van fase twee.
Volgens Marais is die skool doelbewus ontwerp om kinders vir die werkplek voor te berei.
’n Argiteksvoorstelling van die kampus.
“Die kurrikulum is ’n dubbelstroom-model met ’n akademiese en tegniese komponent. Ons fokus op gevorderde landbou, verpleging, onderwys, en IT en entrepreneurskap.”
Sy meen die gemeenskap se uitdagings vereis veel meer as bloot akademiese ondersteuning. “Daar is soveel trauma onder die kinders. As jy hulle net in ’n hoërskool sit, gaan hulle uitval of nie werkgereed wees nie. Akademie werk nie as die ander fondasies ontbreek nie.”
Fokus op trauma
Die vernuwingsfasiliteit sal sowat 50 kinders van Kretzenshoop Primêr in die middae bedien en fokus op vier kernareas: voeding, berading, akademiese ondersteuning en sport.
“Ons kinders kry dikwels nie genoeg gebalanseerde kos nie - of glad nie kos nie. Love Looks Like Something voed reeds daagliks ongeveer 200 kinders. Ons skat dat omtrent 80% van huishoudings ook deur alkohol- en dwelmverslawing geraak word wat lei tot geweldige mishandeling van kinders.”
Die sentrum sal drie beradingskamers hê, asook rekenaarsale, ’n wiskundeprogram, Rocket Readers - ’n Afrikaanse leesprogram - en individuele mentorskap.
Sport vorm die vierde been van die projek. “Baie van ons kinders leef in ’n voortdurende stryd om oorlewing. Ons glo sport sal help om samewerking, dissipline en identiteit te ontwikkel.”
Gretig om te leer ten spyte van haglike omstandighede. Van links: JP, Devon, Elton en Riva, 'n groepie van die kinders van Golden Valley na wie Love Looks Like Something uitreik. Foto verskaf
Vroeëkinderontwikkeling
Die Elpida-kleuterskool sal sowat 80 kinders kan akkommodeer en gebruik maak van die Montessori-gebaseerde Jubilee-kurrikulum.
“Dit bou lewensvaardighede wat normaalweg deur ’n gesonde gesinsomgewing gevestig sou word en skep die boustene vir verdere opvoeding,” sê Marais.
Die projek sal ook tienerma’s ondersteun deur hul kinders by die kleuterskool te akkommodeer terwyl hulle hul skoolloopbaan voltooi.
'Elpida is ’n oplossing'
Marais sê die projek is ’n langtermynoplossing vir diepgewortelde sosiale probleme. “Die goue draad deur Elpida is karakterontwikkeling, identiteit en integriteit. Alles is ontwerp om ’n kind te herprogrammeer. Dit is nie ’n eenvoudige proses nie.”
Die organisasie geniet reeds steun van beleggers, boere en professionele persone wat hul dienste gratis beskikbaar stel en Wesgro fasiliteer registrasieprosesse by die onderwysdepartement. Die grootste struikelblok bly tans die finalisering van die aankoop van die grond.
“Sodra die grond in Elpida se naam geregistreer is, kan ons die registrasie-aansoek vir die skool indien,” sê Marais.
Sy glo Elpida kan help om George se groeiende opvoedkundige en sosiale uitdagings aan te spreek. “Daar is 26 365 kinders in openbare laerskole in George, maar slegs plek vir 15 447 hoërskoolleerders. Elpida is meer as net ’n skoolprojek - dit is ’n oplossing.”
Elpida se ontwikkelingspyplyn vir kinders wat deel sal wees van die opvoedingsentrum.
Marais voorsien dat Fase 1 in Januarie volgende jaar 'n aanvang sal neem met die installasie van modulêre strukture en die bekendstelling van die crèche en vernuwingsfasiliteit. Oprigting van permanente strukture sal tegelykertyd plaasvind met voltooiing na verwagting in 2028 en die opening van die meisieshoërskool ook in daardie jaar. Fase 3 sluit in die verkryging van grond vir die seunshoërskool en 'n vaardigheidskampus.
Die eiendom sal in 'n eiendomstrust gehou word. Mense wat meer inligting oor Elpida se organisatoriese struktuur verlang of 'n bydrae wil lewer - finansieel of met hul vaardighede - kan Marais kontak by 063 771 7817 of hul webwerf besoek (www.elpidasouthafrica.co.za).
Marais se kollegas wat saam werk aan hierdie grootse visie is Carla Galant (nie-uitvoerende direkteur en kommunikasie), Jeanne Erasmus (uitvoerende direkteur en operasionele bestuurder), Abigail Marais (opvoedkunde en kinderbediening) en Cara Kahts (uitvoerende direkteur en tesourier).
Tannie Sanna was sonder hoop ná die onlangse storms, maar Love Looks Like Something is reeds besig om 'n nuwe plek op te rig. Foto verskaf
'n Inwoner, Tannie Catherine, kry 'n drukkie van Alette Marais. Foto verskaf
Skandeer die QR-kode om 'n video oor Elpida op die Group Editors YouTube-kanaal te vind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’