GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua het sy nuutverkose Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) en hoofleiers gelukgewens met hul verkiesing.
Die skool het sy hoofleiers met groot trots bekendgestel. John-Henry Dednam is verkies as hoofseun, met Anouk van Coller as hoofmeisie. Gerrit Janse van Rensburg is die nuwe onderhoofseun, terwyl Xaney Janse van Rensburg as onderhoofmeisie verkies is.
Die vier hoofleiers neem volgens die skool 'n besondere verantwoordelikheid op hul skouers om met integriteit, diensbaarheid en trots voor te loop en 'n positiewe verskil in die skoolgemeenskap te maak.
Die skool het ook elke leerder wat tot die VRL verkies is, gelukgewens. Om medeleerders te verteenwoordig, is volgens die skool 'n besondere voorreg én verantwoordelikheid.
Die nuwe leiers word aangemoedig om hul rolle met integriteit en respek te vervul, 'n hart vir diensbaarheid te hê en die waardes van Hoërskool Outeniqua uit te leef.
REGS: Xaney Janse van Rensburg (onderhoofmeisie), Anouk van Coller (hoofmeisie), John-Henry Dednam (hoofseun), Gerrit Janse van Rensburg (onderhoofseun). Foto: Verskaf
"Leierskap is nie 'n posisie of titel nie, dit is optrede en voorbeeld," lui die boodskap van die skool, wat ook beklemtoon het dat leierskap daarin lê om die pad te ken, dit te stap en dit vir ander te wys.
Hoërskool Outeniqua het sy nuwe leiers sterkte toegewens en gesê die skool sien uit na die pad wat voorlê.
-Saamgestel deur Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’