OPINIE - In die Ou Testament begin Psalm 121 vers 1 met die woorde: Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom. Dis 'n bedevaartslied, wat omskryf word "as 'n lied wat deur die Israeliete gesing is wanneer hulle van ver stede na Jerusalem gekom het om die feesdae van Israel te vier. Langs die pad was daar gevare wanneer hulle die nag moes oorslaap: daar was vyande, rowers, wilde diere en siektes".
Die Israeliete se probleme met vyande, rowers, wilde diere en siektes was normaal vir die tyd waarin hulle geleef en dié bedevaarte aangepak het.
In Suid-Afrika het ons egter ander probleme. Misdaad, werkloosheid, politieke onstabiliteit, water en sanitasie, hemelhoë kos- en brandstofpryse is maar ván die probleme wat ons daagliks ondervind. Die skuldstrik raak al hoe erger.
Die olifant in die kamer is egter die beoogde tariefverhoging van tussen 36- en 43%, wat deur Eskom aangevra word vir die 2025/2026-siklus ná verhogings van meer as 30% gedurende die vorige twee siklusse toegestaan is.
Die minister van elektrisiteit, Kgosientso Ramokgopa, het volgens 'n artikel in die Mail & Guardian onlangs erken dat kragtariewe die afgelope 10 jaar met sowat 400% in Suid-Afrika gestyg het.
Suid-Afrika betaal ook heelwat meer vir krag as lande soos Brasilië, Indië en China (nogals Brics-vennote) en Amerika, terwyl die gemiddelde elektriese tariewe heelwat hoër is as in 144 ander lande wêreldwyd terwyl dit ook hoër is as in die meeste Afrika-lande.
Slaag Eskom daarin om dié voorgestelde verhogings deurgevoer te kry, is die negende plaag van duisternis soos Moses oor Farao van Egipte uitgespreek het, ons voorland. Nie hieroor of daaroor nie, maar omdat daar bloot nie geld sal wees vir krag nie. En dít sonder beurtkrag!
Hulp
Met die hulp van heelparty W/A-groepe vanoor die hele land, is 'n vinnige opname gemaak om te probeer vasstel hoe dinge daar uitsien in ander areas. Wat onmiddelik opgeval het, is dat daar vir seker verskille is met kragtariewe en die heffing van dienste oor 'n wye gebied in sekere areas toegepas word.
Dit is egter geen gekwalifiseerde geouditeerde opname nie, maar dit het miskien tyd geword dat aandag daaraan gegee word.
Dit kan tog nie wees dat daar soveel verskillende weergawes is terwyl Eskom vasgestelde tariewe het nie.
Mense in dié land het egter al so afgestomp geraak om die houe te vat, dat daar geen meer aandag aan gegee word nie. Soos met misdaad. Moord, ontvoerings, kapings, huisbraak, roof en verkragting, is al so alledaags dat dit basies nie eers meer die hoofstroom-media haal nie.
Daar sal eerder aandag aan gegee word om byvoorbeeld iemand soos Jan Braai as 'n rassis oor die kole te haal sonder die nodige feite net om die volgende dag verskoning te vra ná die skade reeds op sosiale media aangerig is.
Kragmeters
Dit egter eers daar gelaat. Ná al die inligting ontvang is, is dit miskien 'n nodige oefening om te kyk wat die impak sal wees indien Eskom as Suid-Afrika se grootste nutsmaatskappy slaag in sy aansoek met die beoogde tariefverhogings van 36% en/of meer.
Ons sal dié oefening ook net gebruik ten opsigte van kragmeters waar huiseienaars dié kommoditeit aankoop en self in hul meters inpons.
Ons hou dit eenvoudig en werk met 'n huidige bedrag van R3.10 (BTW natuurlik ingesluit) per eenheid. Met 'n R1000 kry jy as verbruiker net 322 eenhede. Gestel jy gebruik gemiddeld 20 eenhede per dag en dan sal die totaal van 600 eenhede per maand jou R1 860.00 uit die sak jaag.
Op 30 Junie 2024 sou dieselfde eenheid jou R2.70 gekos het en die maandelikse bydrae sou dan R1 623.00 gewees het. 'n Verskil van R237.00 ná die verhoging van 12.74% op 1 Julie 2024.
Klim in 'n tydkapsule en gaan terug na 30 Junie 2023. Op dié dag sou jy nog R2.21 per eenheid betaal omdat 'n verhoging van 18% (dit was effe meer, maar kom ons werk daarmee) die volgende dag in werking sou tree.
Met dié bedrag kon 'n mens nog 452 eenhede bymekaarskraap en 600 eenhede vir jou daaglikse gebruik van 20 eenhede per dag sou jou R1 330.00 kos. Die verskil tussen R1 860.00 en R1 330.00 bring jou op R529.00 te staan. Slegs sestien maande later!
Intussen het daar 'n basiese elektriese tarief ook bygekom, maar daaroor gaan ons nou nie te veel praat nie. Konsentreer eerder op die huidige. Daai tarief het gekom om te bly.
Eskom
As Eskom nou sy sin kry by Nersa (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) en "slegs" 36% word wel toegestaan, kan die deure op 1 Julie 2025 toegemaak word. Vir Jan Alleman en die klein besighede.
Jou 600 eenhede sal jou dan R2529.00 kos - R669.00 meer as op 30 Junie 2025. Per eenheid sal dié fooitjie opskuif na R4.21. Presies R2.00 duurder as twee jaar tevore en R1200.00 meer as jou maandelikse bydrae van 731 dae (Skrikkeldag vir 2024 ingesluit) tevore!
Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp (krag) vandaan kom!
The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’