Met die Amerikaners se presidensiële verkiesing oor net meer as drie weke, is een van die groot twispunte tussen die Demokrate (Kamala Harris en Tim Walz) en die Republikeine (Donald Trump en JD Vance) die kwessie omtrent verbode immigrante.
'n Twispunt wat op die ou einde maklik die bepalende faktor kan wees om die 47ste Amerikaanse president in Januarie 2025 sy (weer) of haar plek in die Wit Huis in te neem.
In dié stadium blyk dit dat Trump duidelik die oorhand het met betrekking tot dié kwessie. Ander kwessies soos hoë inflasie, buitensporige kos-, energiepryse en stygende misdaadvlakke (klink bekend), 'n erg verdelende maar ook tanende wokeness ideologie en die miskenning van die werklike feite deur die hoofstroom-media, is alles deel om van dié verkiesing waarskynlik die belangrikste een die afgelope 100 jaar te maak indien nie die belangrikste met betrekking tot wêreldwye demokrasie.
Voeg daarby die Amerikaners se huidige buitelandse beleid deur meer geld beskikbaar te stel aan oorloggeteisterde gebiede eerder as om reserwes op bystand te hê wanneer dié land se eie mense deur natuurrampe ontwrig word, en 'n mens kan die resep vir 'n hekse-smorgasbord sien ontvou.
Amerika vs SA?
Maar wat het Amerika se probleme en die voorgenome verkiesing met Suid-Afrika in gemeen?
Onwettige immigrasie is besig om 'n negatiewe nalentenskap te laat in lande waar die kultuur en identiteit van 'n land weggekalwe word. Die gesaghebbende Bill O'Reilly van Fox News was die afgelope naweek in Londen, Brittanje, waar hy 'n Amerikaanse gridiron-vertoonwedstryd bygewoon het op uitnodiging van 'n voormalige VSA-ambassadeur.
Sedert dié wêreldstad 50 jaar gelede O'Reilly se tuiste was, was hy stomgeslaan oor die absolute gedaanteverwisseling wat in Londen aan die gang is.
Waar sy Koninklike Hoogheid Charles III nou die septer swaai, strek sý Empire nie naastenby so wyd soos dit in die vroeë 1900's was toe die son van die ooste tot die weste nooit oor die Britse Koloniale Ryk gesak het nie.
Nou sak dié genoemde son net in Londen oor 45% van 'n meer diverse bevolking as toe die Britse Ryk hoogty gevier het. "Die Britse kultuur is besig om te kwyn," was O'Reilly se opsomming op sy No Spin News-insetsel.
Terloops, Swede, wat een van dié mees liberale lande ter wêreld is, is ook besig om breekpunt te bereik. Die Swede is moeg vir die minagting van hul kultuur en die misdaadvlakke wat die hoogte ingeskiet het weens die oorloop van immigrante, volgens die ekonoom Frans de Klerk.
Korrupsie en poreuse "grense"
In Suid-Afrika het ons sedert die totstandkoming van die demokrasie in 1994 toegelaat dat onwettige immigrante oor ons grense stroom omdat toepaslike maatreëls nie in stand gehou is nie. Korrupsie en poreuse "grense" het natuurlik ook grootliks 'n rol daartoe bygedra.
Met die oorskakeling na die sogenaamde "Reënboognasie", is Suid-Afrika veral vanuit lande noord van die Republiek gesien as die land van melk en heuning en inwoners vanuit die buurlande, maar grotendeel Zimbabwe, het die land ingestroom.
Ofskoon dit blote oneffektiwiteit van ons grensbeheer-instansies was, het Suid-Afrika later geen meer antwoord gehad op die instroming van onwettige immigrante nie.
Indirek het dit egter op dieselfde neergekom as met die Biden/Harris-administrasie waar die grense in Amerika bloot oopgegooi is. Die verskil is dat Suid-Afrika met dié probleem opgeskeep is sedert die aanvang van die demokrasie 30 jaar gelede terwyl Amerika se probleem veral oor die laaste presidensiële termyn onder Biden/Harris verskerp het.
In beide lande is dit veral misdaadvlakke, wat toenemend vererger het aan die hand van veral verbode immigrante. Nie dié wat die regte kanale volg nie, maar dié wat in die stelsel beland sonder dat die nodige prosesse gevolg is.
In Suid-Afrika sal ons daagliks lees en hoor van verskeie ernstige misdade waaraan veral burgers van Zimbabwe, Lesotho en Nigerië gekoppel word. In Amerika is dit weer die Mexikaanse dwelm-kartelle, mensehandel en smokkelary wat hoogty vier.
In Suid-Afrika kon daar nog nooit met sekerheid vasgepen word hoeveel onwettige immigrante binne ons grense aanwesig is nie, maar die getalle 5- en/of 6 miljoen duik gereeld op.
In Amerika word gereken dat die verbysterende getal van 21 miljoen onwettige immigrante nét met die Biden/Harris-administrasie waarskynlik nog aan die konserwatiewe kant is.
Syfers deur ICE vrygestel
Wat egter verdoemend vir dié administrasie is, is die onlangse syfers, wat deur ICE (Buro vir Immigrasie en Doeane Wetstoepassing) vrygestel is. Volgens dié syfers het meer as 425 000 veroordeelde misdadigers sedert 2021 onder die Demokratiese regering dié land binnegestroom. Dit sluit 13 099 veroordeelde moordenaars en 15 861 veroordeelde seksoortreders in. In Suid-Afrika is syfers soos dié egter nie beskikbaar nie, wat ook die rooi vlae laat opskiet.
Interessant egter is dat Suid-Afrika se grens met sy buurlande Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en Eswatini (voorheen Swaziland) op 3 727km langer is as die grens tussen Amerika en Mexiko, wat oor 3 145km strek. Sluit 'n mens die enklawe van Lesotho by Suid-Afrika in, en dié grensgebied strek dan oor 5 042km.
Die Amerikaanse state Kalifornië, Arizona, Nieu-Mexiko en Texas word direk deur die grens met Mexiko geraak, maar die probleem strek heelwat verder as in ag geneem word dat onwettige immigrante selfs vanuit lande soos Venezuela en Haïti onder die Biden/Harris-administrasie na Amerika ingevlieg is!
Uit 'n ekonomiese oogpunt is onwettige immigrasie in Suid-Afrika sowel as die VSA, maar ook ander wêrelddele, onvolhoubaar en die mense wat die ergste daaronder ly is jou plaaslike gemeenskappe.
Dié rubriek is 'n onafhanklike mening en weerspieël nie noodwendig die riglyne van die Mossel Bay Advertiser nie.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’