OPINIE - Behalwe nou vir die voor die hand liggende redes waarom 'n mens die George-parkrun sal wil doen, is daar ander voordele ook. Jy kry die kans om na allerlei gesprekke te luister. Dit is nou wanneer jy die parkwalk doen, en nie die run nie.
Interessante gesprekke moedig my aan om vinniger te loop, om by te hou om die gesprek te kan luister.
Ek wil weet wat het volgende gebeur. Indien iemand 'n moeilike kind of hond het, of as die gesprek baie vervelig is, hou mens maar net so 'n bietjie terug sodat die oomblik verby beweeg.
En die beauty van dit alles: ek hoef nie 'n woord te praat nie. Dis heeltemal anoniem, en op 'n manier soos om Netflix te kyk, sonder om die storie van voor af te begin.
'n Mens luister gewoonlik na die middelste gedeelte van 'n gesprek, maar dit maak alles interessanter. Dit is 'n legkaart om te ontsyfer.
"As ek jou wil dood hê, gaan niemand jou kry nie," vertel die een vrou.
"Ek begrawe jou eerste, dan 'n dooie dier bo-op jou, en dan plant ek blomme. Rose en laventel."
Ek brand om te weet hoe die gesprek begin het. En, ek is bly ek is nie aangetroude familie nie.
Ons bly by die dood, met 'n tweede gesprek deur twee mans: "'n Aktuaris beskou dit in 'n positiewe lig indien 'n mens nie te lank lewe nie. Meeste van my voorsate het vroeg gesterf. Op dié stadium het ek omtrent almal oorleef. Jy sien, as jy vroeg sterf is jy nie so 'n las op die boedel nie. Dit is beter vir almal, behalwe natuurlik vir die pasiënt."
Dan kom ons by die besigheidspraatjies. 'n Sekere besigheidseienaar het 'n verlies van miljoene gely, en dit blykbaar oor uie.
"Hy sien nie kans om die persoon wat die blaps gemaak het in die pad te steek nie, want hy is bang die ander twee werknemers loop ook. Dit het gebeur omdat hy nie weet hoe om die mengsels self aan te maak nie."
Ek is doodnuuskierig, maar die geselskap loop onder my uit. Ek gaan moet werk aan my fiksheid.
Hoërskool Outeniqua se matriekafskeid het ook ter sprake gekom. Toe ons 'n eenpersoonpaadjie tref en dit gaan maar sukkel-sukkel met die spoed vorentoe, herbeleef 'n stapper die vorige aand se verkeersknoop op pad na Edens Place in 'n pragtige metafoor.
Nou wie het ooit gesê die parkrun gaan net oor oefening?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’