Hier gaan ons al weer. Of jy nou reg is of nie, die jaar is goed op dreef!
Na 'n heerlike rustyd - vir diegene wat gelukkig genoeg was om te rus - verwelkom die skole vandeesweek hul leerders terug.
Soos my pa graag sê, na 'n Desembervakansie voel die werkswater maar koud. Tog is 'n mens dankbaar vir die wegbreek van die lessenaar, in my geval, of waar jou werk jou ook al heen druk. Tydens die vakansie was ek en my man redelik voos weens ons tieners se sosiale dagboek.
Dit is see toe en 'n braai by ons huis en uitstappies hier en daar en nog een in die beplanning … Almal in die bakkie, hier gaan ons! O, asseblief kan ons gou so-en-so hier optel, en die vyfde lid van die span kilometers verder…
Ons sê vir alles 'ja', so ver ons kan, want dit is immers ons oudste se laaste jaar by die huis voor sy die groot wêreld in vaar. En ons jongste se laaste jaar in die laerskool.
Nietemin durf ek nie kla nie, want ek is met vakansie, en soos menigte ander moes baie van die maats se ouers dwarsdeur die feestyd werk. Dan 'Bolt' ek met liefde, en geniet die see saam met die jonges - natuurlik so 50 m verder, want hulle wil hul eie ding doen.
Of jy soos ons tyd saam met die kinders spandeer het, of soos baie ander in die gasvryheidsbedryf, groothandel of gemeenskapsdienste sonder ophou gewerk het, of heeltemal op jou eie 'n geweldige traumatiese tyd oorleef het, wens ek julle voorspoed toe met die nuwe jaar.
My leuse vir 2026: selfversorging en grense. Wat is joune?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’