RUBRIEK - WhatsApp is een van die gewildste elektroniese boodskapplatforms ter wêreld. WhatsApp word deur miljarde mense gebruik om persoonlike en professionele inligting te deel.
Alhoewel die inhoud van alle boodskappe goed beskerm word (alle boodskappe word geëinkripteer), is ’n mens se WhatsApp-rekening nie noodwendig so goed beskerm nie. Soos alle digitale toepassings, is dit nie immuun teen die moontlikheid om gekraak (hack) te word nie.
Dit is baie belangrik dat elke WhatsApp gebruiker verstaan hoe ’n tipiese WhatsApp-rekening werk, hoe jou rekening moontlik gekraak kan word en hoe om dit te help voorkom.
Hoe werk ’n tipiese WhatsApp-rekening?
Wanneer ’n WhatsApp-rekening geskep word, word dit primêr aan ’n spesifieke telefoonnommer gekoppel. ’n 6-syfer verifikasiekode word na die foon, met die betrokke SIM-kaart en nommer, ge-SMS om te verseker dat die WhatsApp-rekening gekoppel word aan die betrokke nommer en aan die betrokke telefoon.
Natuurlik is hierdie 6-syfer verifikasiekode hoogs geheim en moet nooit vir enige ander party gegee word nie.
Die telefoonnommer en SIM-kaart word slegs gebruik by die skep van ’n WhatsApp-rekening. Daarna word Wi-Fi of mobiele data gebruik om met jou WhatsApp-rekening te kommunikeer.
Indien jy byvoorbeeld oorsee sou reis, jou Suid-Afrikaanse SIM-kaart uithaal en tydelik ’n ander land se SIM-kaart insit, sal jou WhatsApp-boodskappe steeds na jou foon toe gestuur word.
Dus, jou telefoonnommer en SIM-kaart word slegs gebruik vir die skep van ’n rekening, maar daarna fungeer WhatsApp met jou telefoon deur middel van ’n internetkonneksie (Wi-Fi of mobiele data).
Hoe kan my WhatsApp-rekening gekraak word?
Die mees algemene manier waarop ’n WhatsApp-rekening gekraak word, is deur sosiale manipulasie, veral SIM-ruilbedrog of verifikasiekode-swendelary. In ’n tipiese geval probeer ’n skelm jou WhatsApp-rekening na sy/haar foon oorplaas. Om dit te kan doen sal WhatsApp weer ’n 6-syfer verifikasiekode na jou foon stuur.
Indien die skelm hierdie 6-syfer kode kan bekom, kan die WhatsApp-rekening moontlik aan ’n ander foon gekoppel word en so word jou rekening gekraak. Gewoonlik gee so ’n skelm voor dat hy/sy van WhatsApp se ondersteuningsdiens is of ’n vriend in nood is. Moet egter nooit hierdie 6-syfer kode vir enigiemand gee nie.
’n Tweede manier is wanneer ’n skelm probeer om jou telefoonnommer by jou mobiele verskaffer (Vodacom, MTN, ens.), na ’n ander SIM-kaart oor te dra. Indien suksesvol, kan die skelm vervolgens jou 6-syfer verifikasiekode ontvang aangesien hy/sy nou jou telefoonnommer besit. In so ’n geval is jou WhatsApp-rekening ook gekaap.
Ander metodes sluit in wanneer kwaadwillige-sagteware jou foon of rekenaar infekteer. Dit gebeur gewoonlik wanneer jy programme, van onbetroubare bronne, installeer of op skakels van onbekende bronne klik.
Openbare Wi-Fi-netwerke, indien ongeëinkripteer, hou ook ’n risiko in. Krakers kan moontlik data onderskep of probeer om vanaf afgeleë toerusting toegang tot jou toestel te kry.
Wat gebeur wanneer my WhatsApp-rekening gekaap word?
Wanneer jou WhatsApp-rekening gekaap word, kan die uitkomste wissel van irriterend tot ernstige skade, byvoorbeeld:
1. Verlies van toegang: jy word heeltemal uit jou rekening gesluit.
2. Nabootsing: Krakers kan boodskappe aan jou kontakte stuur en voorgee dat dit jy is. Hulle vra dikwels vir geld of persoonlike inligting.
3. Data-blootstelling: Toegang kan verkry word tot jou vorige WhatsApp gesprekke, afhangende van hoe jou data gerugsteun is (Google Drive of iCloud).
4. Versprei van kwaadwillige-sagteware of swendelary: Jou rekening kan gebruik word om kwaadwillige skakels of geïnfekteerde lêers na jou kontakte te stuur om ander gebruikers se toestelle te besmet.
5. Inbreuk op privaatheid: Krakers kan sensitiewe gesprekke lees of persoonlike data insamel en sodoende kan identiteitsdiefstal plaasvind. Die emosionele tol kan ook hoog wees, veral indien jou reputasie skade ly of sensitiewe gesprekke uitlek en jou naam beswadder.
Hoe kan ek verhoed dat my WhatsApp-rekening gekraak word?
Gelukkig is daar duidelike stappe wat jy kan neem om jou WhatsApp-rekening te beskerm:
1. Aktiveer tweestap-verifikasie: Dit voeg ’n ekstra laag sekuriteit by deur ’n PIN-kode te vereis wanneer jou nommer herregistreer word. Jy kan dit aktiveer by WhatsApp onder: ‘Settings’ \> ‘Account’ \> ’Two-step verification’.
2. Moet nooit verifikasiekodes deel nie: WhatsApp sal jou nooit vra om jou 6-syfer kode te deel nie. Behandel dit soos ’n wagwoord, moenie dit ooit met iemand deel nie.
3. Pasop vir verdagte boodskappe: Wees versigtig vir skakels of versoeke, selfs van sogenaamde ‘vriende’.
4. Beveilig jou SIM-kaart: Vra jou mobiele verskaffer om ’n PIN of wagwoord by jou rekening te voeg om ongemagtigde SIM-ruilings te voorkom.
5. Hou toestelle veilig: Gebruik ’n persoonlike 4- of 6-syfer kode om jou toestel se skerm te sluit, installeer opdaterings en vermy die aflaai van onbekende programme of die gebruik van onbetroubare Wi-Fi-netwerke.
Ten slotte, terwyl WhatsApp relatief veilig is, is geen platform of toepassing onkwesbaar nie. Deur die risiko’s te verstaan en goeie digitale higiënepraktyke te volg, kan jy die kans dat jou rekening gekaap word dramaties verminder en sodoende beide jou privaatheid en jou gemoedsrus beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’