OPINIE - Ek sit in die heel agterste ry van die galery by George-stadsaal, met 'n oorweldigende emosie wat oor my spoel. Ek kan nie die trane keer nie, ek laat dit maar net loop.
Enigeen naby my, wat dit in die donker raaksien, sal die logiese afleiding maak dat ek meegevoer is met die einde van Narnia se laaste beweging, 'n balletopvoering deur plaaslike kinders. Dit is egter nie wat my hart gryp nie.
Terwyl ek die kinders daar op die verhoog sien dink ek terug aan Denise. Sy was nege of tien jaar oud toe ek haar laas gesien het, twintig jaar gelede. Ek het skool gegee by Laerskool Tandfontein, 'n plaasskooltjie in die Koue Bokkeveld.
Op daardie stadium het hulle iemand nodig gehad om kuns en kultuur te gee, en ek was al te gretig. Hulle het my uit die snoepie betaal, as daar 'n geldjie was. Die kunsmedium wat ons gebruik het was drie pakkies stukkende pastelle en afrolpapier. Verder het ek goed van die huis af gebring.
Al die kinders in my klas se ouers het op die plaas gewerk. Sommige was gewone plaaswerkers, ander het gevorder tot voorman van 'n span. Twee kinders het 'n spoor in my hart getrap: Johnry en Denise. Johnry het ongelooflik goed geteken. Hy was kreatief en vlymskerp. Die intelligensie het geskitter in sy oë.
Denise was gek oor ballet. Sy het eers saggies gevra, maar ek het haar nie die eerste keer gehoor nie. Toe bring sy vir my haar grootste skat: 'n stokou biblioteekboek met 'n plastiekomslag, wat die eerste paar bewegings van ballet in foto's wys.
"Juffrou, asseblief help my met ballet," sê sy. Die 'lle' en 't' duidelik gevorm op haar tong. "Kan ons ballet doen, juffrou?"
Ek het haar gepaai, die versoek aangeskuif, verder gewerk aan die drama wat ek vir die klas geskryf het. As alles goed gaan, kan ons die drama voor die plaasmense opvoer. Denise het egter nie vergeet nie, en elke nou en dan weer haar boek gewys. As daar nou ooit 'n passie by 'n kind vir ballet was, het dit gebrand in haar.
Ek het die balletjuffrou op Ceres gebel, sy sal haar verniet afrig. Maar, die afstand is baie groot. Hoe gaan Denise op die dorp kom? Dis meer as 'n uur se ry.
Enkele maande later het my bande met die plaas losgeskiet en ek het na George verhuis. Ek het haar nooit weer gesien nie. Denise is waarskynlik nou naby aan die ouderdom wat ek was, 31, toe ek haar juffrou vir 'n kort tydjie was.
My dogter was maar drie jaar oud toe sy haarself vir Abbi Geldenhuys se balletklasse ingeskryf het. Passie het g'n keer nie. Sy sit langs my in die stadsaal en hou die dansers dop wat vir jare saam met haar gedans het. En ek dink aan Denise. Het jy nog jou biblioteekboek?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’