BLOG - Hy was net 'n ou klein knapie in graadeen toe ek vir hom 'n potloodsakkie laat maak het - ewe met camouflage-materiaal en sy naam op gedruk, in wit. "Dis 'n slim plan," het ek stilweg gedink, want nou weet almal wie s'n dit is.
Iewers in sy graadtwee of graaddrie jaar het die sakkie voete gekry.
Skoonveldweg. Intussen het meneer skole geruil, en potloodsakkie lankal vergete. So jy kan jou indink hoe groot my verbasing was toe hy by die huis instap en sê: "Ek het my potloodsakkie – daai een met die camouflage – gesien. My naam is ook nog daarop!"
"Waar?" wou ek weet.
Kian was by sy Kumonklas in George Voorbereidingskool se saal, toe hy die uitstalling daar sien. "Met my potloodsakkie in," verduidelik hy. "Hulle wys vir mens maniere waarop jy 'n sakkie kan ontwerp."
"Ons moet dit gaan haal," sê ek vir hom. Maar, hy wou hê ons moes eers toestemming kry.
Nou moet julle verstaan, hy is al twee jaar weg by sy "ou skool", Laerskool George-Suid (LGS), en gaan tans skool by Laerskool Outeniqua, Voorbereiding se ouboet. Hoe op dees aarde kom die sakkie al die pad van LGS, waar die sakkie verdwyn het, te lande by Voorbereiding?
Daar is gebel en ge-epos, en toe verduidelik Voorbereiding dit is al die tyd 'n uitstalling deur Print-T-Niqua, vir voornemende ouers van 2025, om hul produkte te vertoon. Ek moet soontoe bel.
Dit is waaragtig waar ek destyds die sakkie laat maak het! Nou is ek eers nuuskierig. Ek kontak en wag. Die antwoord was iets wat ek nooit sou kon droom nie: Kian se sakkie het 'n byna identiese tweeling.
Toe sy sakkie gemaak is, was daar 'n drukkersglips wat veroorsaak het dat die wit letters op plekke effens pienk deurskyn weens die bruin dele op die materiaal. "Dit was vir 'n seuntjie, ek dog hy sal dalk nie daarvan hou nie," verduidelik die eienaar, Helen dos Santos. "Toe maak ons nog een vir hom."
En die beste deel van die storie? Helen het laat weet ons kan die sakkie met die grootste liefde kry. Print-T-Niqua het dit al die jare vir uitstallings gebruik. Dit is eintlik "splinternuut". Dié sakkie word jaar na jaar by skole vertoon as 'n voorbeeld van hul produkte. Helen vind dit baie spesiaal dat die eienaar van die sakkie se tweeling na al die jare "sy sakkie" herken.
Journalist Michelle Pienaar, George Herald
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’