GEORGE NEWS - Fourie Ackermann en Anika Meyer is hard besig om in Wildernis die duikweg se mure met hulle kunswerke te verfraai.
Dit volg nadat Wildernis se belastingbetalersvereniging, die WRRA, vir Ackermann die opdrag gegee het. Hy is alombekend as die muurkunstenaar van Friemersheim.
Meyer, ’n BSc-biochemie- en chemiestudent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, kuier tans by haar ouers in Groot Brakrivier. Sy verf meestal met waterverf op doek, en sê sy is opgewonde om by Ackermann, ’n ervare muurkunstenaar, te leer.
Hy het plaaslike bekendheid verwerf nadat hy tydens die Covid-grendeltydperk verveeld geraak het en die inwoners van Friemersheim se buitemure, met hul toestemming, met pragtige en indrukwekkende beelde begin skilder het. Vandag is Friemersheim ’n gewilde toeristeaantreklikheid en spog dit met talle muurskilderye. Toeriste is mal daaroor om Friemersheim se mure op hul sosiale media te deel, en selfs Kwêla het aan die einde van 2024 daar ’n draai gaan maak.
Die muurskildery in die Wildernis-duikweg deur Fourie Ackermann, met die hulp van Anika Meyer. Foto: Marguerite van Ginkel
Ackermann, wat reeds werke vir pres. Cyril Ramaphosa en as stelkunstenaar op Leonardo di Caprio se filmstel, Blood Diamond, gewerk het, sê dat Friemersheim sy liefdesprojek is. Die werk daar word op eie koste en in sy eie tyd gedoen. Hy is dankbaar vir Universal Paint Voorbaai, wat ingespring het met ’n verfborg nadat die Kwêla-storie uitgesaai is.
Die muurskildery in die Wildernis-duikweg deur Fourie Ackermann, met die hulp van Anika Meyer. Foto: Marguerite van Ginkel
Ackermann sê hy het minstens 20 huise in Friemersheim wat wag om geskilder te word, maar dat hy afhanklik is van betaalde werk en opdragte soos dié wat deur die WRRA moontlik gemaak is.
Hy is duidelik passievol oor die kunsvorm en noem dat baie van sy idees deur sy vrou uitgedink word. Sy herinner hom voortdurend om sy kunswerke na nuwe hoogtes te neem en meer ‘uit die boks’ uit te dink, veral in plekke waar hy groter kreatiewe vryheid het.
Behalwe die duikweg is daar ook ander van Ackermann se werke in Leentjiesklip. Elke muurskildery vertel ’n storie. Wildernis, wat al hoe meer bekend raak as ’n kunstebaken, het pas nóg iets bygevoeg tot die magiese skoonheid wat die dorp so besonders maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’