GEORGE NUUS - Parkdene Hoërskool het 'n uitstekende slaagpersentasie van 92,7% behaal.
Xavier Paulse is die topleerder met onderskeidings in Besigheidstudies (92%) en Geskiedenis (84%).
Darryl Moodley is tweede met onderskeidings in Besigheidstudies(97%) en Ekonomie (86%), en Lu-Crisha Adams is derde met 'n onderskeiding in Besigheidstudies (90%).
Die skoolhoof, Phillip Rothman het die klas van 2024, ook bekend as die Covid-groep, geprys en gesê, "Julle breek die 90 en verrig die onmoontlike en lig die slaagpersentasie tot 92,7%. Welgedaan vir jul uitstekende uitslae. Dankie vir jul opoffering en positiewe ingesteldheid. Daar was moeilike en hartseer tye en selfs daarin het die Here Sy guns aan ons skool getoon. Die eer en glorie kom die Hemelse Vader toe."
Die klas het 'n 100%-slaagsyfer behaal in Besigheidstudies, Engels, CAT, LO, IGO, Tourisme en Verbruikerstudie.
Onderskeidings is behaal in Besigheidstudies (6), Toerisme (4), Ekonomie (1), Geskiedenis (1) en Religieuse Studie (1).
Rothman het gesê die sukses is te danke aan verskeie persone. "Baie dankie aan Jannelie-Mercia Blaauw, die graad 12-sameroeper, die registeropvoeders en vakopvoeders vir die ekstra ure van harde werk en deurtrap van konsepte. Dankie aan elke opvoeder vanaf gr. 8 tot 12 wat 'n bydraende faktor was tot die sukses van ons uitslae, asook die skoolbeheerliggaam, ouers, voogde en gemeenskap van Pardene Hoër."
Rothman het sterkte toegewens aan diegene wat dit nie gemaak het nie. "Daar is geleenthede vir 'n tweede kans. Daar is altyd hoop," het hy gesê.
Besigheidstudiesonderwyser Ian le Roux met sy leerders wat almal A-kandidate is. Van links staan Jonthy Noordman, Caylee Pedro, Lu-Crisha Adams, mnr. Le Roux, Darryl Moodley, Xavier Paulse en Denver de Beer.
'n Trotse juffrou Jannelie-Mercia Blaauw met haar Rekenaartoepassingstegnologie-leerders. Die klas het 'n slaagpersentasie van 100% behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’