As jy slim te werk wil gaan met eiendomstransaksies moet jy probeer om meer ‘wins’ te maak wanneer jy ‘n huis koop eerder as wanneer jy dit in die toekoms verkoop.
En, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, die beste manier is om ‘n ogie oop te hou vir huise in goeie buurte wat straks effens afgeskeep lyk maar wat goeie winsgeleenthede in die toekoms inhou - met ander woorde, huise waarmee die ‘regte’ goed skort.
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat sulke foute die volgende kan insluit:
* Afgeskeepte verfwerk. Jy behoort die geleentheid te benut as ‘n goeie huis ‘n bietjie nuwe verf nodig het aangesien jy afslag op die koopprys kan vra om te vergoed vir die uitgawes aan nuwe verf en vir ongerief – en sodra die verf droog is kan jy verwag dat die huis se waarde met drie tot vyf keer die koste van die verfwerk toeneem.
* Outydse of vervelige lampskerms. Dit is van die goedkoopste en mees winsgewende huisverbeterings terwyl dakvensters donker ingange, badkamers en kombuise ‘n heel nuwe aanskyn kan gee.
* Verweerde matte (mits die vloer onder die matte in ‘n goeie toestand is). Nuwe vloerbedekkings is nog ‘n uiters winsgewende huisverbetering. Opknapping van houtvloere wat onder matte weggesteek was is ook ‘n goeie keuse, veral as dit by die ouderdom en karakter van die huis pas.
* ‘n Verwaarloosde tuin. Selfs net uitgawes van ‘n paar honderd rand aan plante, die grasperk en ‘n goeie opruiming, kan twee tot drie keer die bedrag aan die waarde van die huis toevoeg.
* Een badkamer. ‘n Huis met net een badkamer kan ‘n goeie kopie wees indien die bestaande vloeroppervlak ruimte bied vir ‘n tweede badkamer. ‘n Tweede badkamer verhoog gewoonlik die waarde van die huis met twee keer die waarde van die onkoste – en dit maak die huis natuurlik aantrekliker vir ander kopers wanneer jy die dag besluit om te verkoop.
“Aan die ander kant moet jy wegbly van eiendom waar die dak vervang moet word, die fondasies werk nodig het, grootskaalse elektriese of loodgieterwerk nodig is, of indien daar water- of termietskade aangerig is.
“En indien jy nie beplan om lank in die huis te woon nie, moenie eiendom koop wat aanbouings soos ‘n nuwe gesinskamer of bykomende slaapkamer nodig het om dit vir jou gerieflik te maak nie. Sulke opknappings voeg selde dieselfde waarde by die eiendom as die onkoste en jy sal beter daaraan toe wees om ‘n huis te koop wat reeds genoeg ruimte het, al is dit ietwat duurder.”
Uitgereik deur Chas Everitt International.