GEORGE NUUS - 'n Voorstel wat die bestuur van munisipaliteite dramaties kan verander, is verlede Dinsdag tydens 'n virtuele portefeuljekomiteevergadering oor samewerkende regering en tradisionele sake bespreek.
Volgens die voorstel moet die burgemeesterspos, soos voorheen, bloot seremonieël wees. Tans het burgemeesters uitvoerende poste met magte.
Verder lui die voorstel dat burgemeesterskomitees vervang moet word met 'n uitvoerende komitee wat proporsioneel saamgestel word na aanleiding van die verteenwoordiging van die onderskeie partye op die raad.
Munisipaliteite waar koalisieregerings aan die orde van die dag is, sal deur hierdie verandering geraak word. Met die komende verkiesing later vanjaar is die voorspelling dat koalisieregerings 'n groter werklikheid gaan word.
Die metromunisipaliteit van Johannesburg is na die 2016 verkiesing, onder die burgemeesterskap van Herman Mashaba, vir 'n wyle deur 'n DA-beheerde koalisie regeer (DA 38,4% EFF 11,1% en nog vier ander partye).
Ingevolge die nuwe voorstel sou die ANC, wat in daardie geval die party was met die meeste plekke in die raad (44,5%), die grootste verteenwoordiging op 'n uitvoerende komitee geniet. Al was die ANC dus nie die regerende party nie, sou hulle met die implementering van die voorstel die grootste mag geniet.
Die voorstel is verlede Dinsdag deur 'n amptenaar in die nasionale regering, dr. Kevin Naidoo, voorgelê. Naidoo is die uitvoerende bestuurder van munisipale bestuur in die departement van samewerkende regering. Daar is egter ooreengekom dat provinsiale LUR'e van plaaslike regering ook aan die bespreking moet deelneem alvorens 'n besluit geneem word.
Nog 'n lang pad
DA George-kiesafdelingshoof, Geordin Hill-Lewis, het by navraag gesê die voorstel het geen invloed voordat daar nie 'n konsepwetgewing ter tafel gelê is nie.
"Op die oomblik klink dit na niks meer as 'n mondelinge voorstel nie. Dus, selfs al geniet dit die steun van die nasionale regering, sal dit nog lank duur voordat dit in die parlement ter tafel gelê, gedebatteer en uitgevoer word."
George-burgemeester, Leon van Wyk, sê daar is gesprekke wat nou al vir 'n hele paar jaar die rondes doen, wat voorstel dat die burgemeester weer slegs seremoniële pligte hanteer en die voorsitter van 'n uitvoerende bestuurskomitee die persoon moet wees wat beleid hanteer en 'n oorsigrol speel.
"Die gedagte in sulke gesprekke was dan ook dat ander partye in 'n uitvoerende komitee verteenwoordig moet wees. Die wetgewing gee vir 'n mens daardie opsies, maar tans is daar ooreengekom dat munisipaliteite die huidige bedeling volg van 'n burgemeesterskomitee en 'n uitvoerende burgemeester."
DA George-kiesafdelings hoof Geordin Hill-Lewis
Prioriteite
Van Wyk sê sy fokus is op die dorp: "Vir my gaan dit oor George. Wat doen ons om George vorentoe te neem? Ons is tans besig met hoëvlak besprekings met nasionale tesourie oor befondsing en hoe om infrastruktuurprojekte aan te pak. Die klem is op ekonomiese ontwikkeling," sê Van Wyk.
"Die vraag is nie wat kan ek uit die stelsel uit kry nie, maar wat kan ek doen vir die stelsel. Ons moet 'n omgewing skep wat maak dat mense hier wil belê."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'