GEORGE NUUS - Die politieke temperatuur is aan die styg vir die munisipale tussenverkiesing in George wat op 17 Julie in wyk 20 plaasvind.
Altesaam ses partye, die PBI, DA, ANC, EFF, Good en ACO gaan deelneem.
Die PBI het Maandag die ander partye tot 'n openbare debat uitgedaag.
Groot belangstelling heers vir die tussenverkiesing. Dit sal die eerste munisipale verkiesing wees waaraan Good deelneem. Die uitslag sal nie die magsbalans in die raad raak nie.
Die wyk het kort voor die nasionale en provinsiale verkiesing vakant geraak nadat die dienende wyksraadslid en DA-lid, Mercia Draghoender, onverwags bedank het en by Good aangesluit het.
Virgill Gericke, PBI-leier het Maandag gesê die party se vaandel word deur Davey Wesso gedra.
Die 45-jarige Wesso is in Borcherds, wat in die wyk val, gebore en getoë. Hy woon steeds in die wyk. Hy is getroud en 'n gesinsman.
Volgens hom is Wesso baie bekend in die wyk.
Hy is onder meer 'n voormalige voorsitter van die Maori's rugbyklub. Hy lewer motiveringspraatjies om die jeug op te voed teen misdaad.
Hy is ook betrokke by kinder-sportprojekte. Gericke het gesê Wesso gebruik sport om interaksie met die gemeenskap te bewerkstellig en verhoudings gesond te hou.
Volgens Gericke neem die PBI deel omdat die gemeenskap van Borcherds "misbruik is deur die konvensionele partye".
Hy het aangevoer die gemeenskap gaan byna daagliks agteruit. Daar is geen aktiwiteite vir die jeug nie. Werkloosheid is ook baie hoog. Die vlak van armoede in die wyk is verskriklik hoog.
Die PBI se fokus is nie op ander partye of kandidate nie. "Ons vernaamste fokus is die opheffing van die gemeenskap en die skep van geleenthede vir ons jeug. As dit gebeur, kan die vlakke van misdaad daal."
Rozain Hansen, DA-veldtogbestuurder vir die tussenverkiesing, het gesê die party is bereid om aan 'n openbare debat deel te neem.
"Dit kan kiesers help om meer ingeligte besluite te neem en te wys wat die DA bied."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'