GEORGE NUUS - Ofskoon die munisipale verkiesing eers in 2026 plaasvind, het die Patriotiese Alliansie (PA) in George Vrydag 6 Junie al aangekondig dat Fernando Fredericks sy burgemeesterskandidaat gaan wees. Die PA hoop dat met die 36-jarige Fredericks, hy daarin kan slaag om die mag in George oor te neem.
Op die oomblik swaai die DA met behulp van die ACDP die septer in die stadsraad. Die PA het drie lede in die raad. Tydens die aankondiging het PA-lede dit baie duidelik gestel dat die party daarop uit is om ’n volstrekte meerderheid te behaal.
Fredericks kom van Pacaltsdorp en het in die verlede tydens ’n munisipale verkiesing die DA vaandel in wyk 27 gedra. Hy het in ’n stadium uit die DA bedank.
Vir baie het die PA se aankondiging om noual sy burgemeesterskandidaat aan te kondig, as ’n verrassing gekom. Bazil Petrus, LPP en die PA se kiesafdelingshoof vir George, het egter tydens ’n nuuskonferensie die party se besluit verduidelik.
Volgens Petrus is George baie belangrik vir die PA. Die party glo hy het baie om vir die mense van George te bied en wil veranderinge aanbring tot voordeel van inwoners.
Fernando Fredericks Foto: Eugene Gunning
Petrus het gesê die PA doen nie die normale wat die tradisionele partye doen nie. Die PA wil van die begin ’n regering nader aan die mense bring. Daar kan nie gewag word tot dat die party eers in regering is. Kiesers gaan nou al sien wat aan die gebeur is.
Fredericks het gesê hy het in 2022 uit die DA bedank omdat die “fondasie” van die party nie reg was nie en daar sekere goed was waarmee hy nie saamgestem het nie. Hy wou nie daarop uitbrei nie.
Volgens hom is daar baie dinge wat anders in George gedoen kan word. Hy het byvoorbeeld verwys na sport. Sport bring mense bymekaar en dit kan elke Saterdag gesien word wanneer rugby en sokker gespeel word.
Op die oomblik kry kinders geleentheid om byvoorbeeld in die buiteland te gaan deelneem. Geldsake en borgskappe is bietjie moeilik. Hy sal wil kyk hoe plaaslike regering in die verband kan help.
Daar moet ook nader aan die sakesektor beweeg word sodat dit makliker kan word om sakeondernemings te bedryf. Hy sal kyk hoe bywette verslap kan word om die informele sektor in George te help.
Wat sê die DA as die meerderheidsvennoot in die George-stadsraad?
Dirk Wessels, LPP en ’n DA-kiesafdelingshoof vir George, het gesê elke party het sy eie prosedures.
Die DA het ’n streng keuringsproses vir kandidate. Die party se aanlyn aansoeke vir stadsraadslede het op 31 Mei gesluit en dit word opgevolg met fisiese onderhoude.
Eers daarna vind ’n aparte proses om kandidate vir die speaker, onderburgemeester en burgemeester aan te wys.
Johan du Toit, ’n ACDP-lid in die stadsraad en lid van die koalisie, het gesê die party se prosesse om kandidate te identifiseer en aan te wys is aan die gang. Sodra die demokratiese prosesse afgehandel is sal die party sy burgemeesterskandidaat bekendmaak. Dit sal waarskynlik nog voor die einde van die jaar plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’