GEORGE NUUS - Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het 'n klagte wat deur Virgill Gericke, leier van die PBI, ingedien is oor 'n plasing op die sosiale mediablad, Lokasie Staan Saam (LSS), verwerp. Die blad het meer as 20 000 volgelinge.
Gericke het in sy klagte aangevoer dat die plasing disinformasie, 'n verdraaiing van die waarheid en laster is.
Gericke is glo daarvan beskuldig dat hy in sy hoedanigheid as raadslid van 'n munisipaliteit 'n setel van die VF Plus opneem.
Gericke het aangevoer dat hy die munisipale bestuurder van die distriksmunisipaliteit sowel as plaaslike OVK-amptenare gevra het om die status van die aantygings vas te stel. Nie een van hulle kon die egtheid daarvan bevestig nie. Hy het later aan die George Herald gesê dat hy bevestiging van die OVK ontvang het dat die aangeleentheid ondersoek word. Brendon Adams, administrateur van LSS, het intussen bevestig dat hy 'n brief van die OVK ontvang het waarin die klagte verwerp word. Hy het 'n afskrif van die brief beskikbaar gestel.
In die brief skryf N. Rampershad, hoof van regsdienste van die OVK, dat Adams nie die gedragskode van die verkiesing oortree het nie.
As Gericke nie gelukkig is met die beslissing van die OVK nie, kan hy sy klagte na Media Monitoring Africa neem.
Adams het die OVK se beslissing as 'n oorwinning vir sosiale media beskryf. "Virgill se klagte by die OVK was 'n poging om iets wat in openbare belang is, stil te maak. Ek het die plasing gemaak omdat dit in openbare belang op sosiale media is." Hy het nooit Gericke se naam genoem nie en hy wou hom op die blad 'n kans gee om sy kant van die saak te stel.
Volgens Adams is dit nie 'n persoonlike geveg met Gericke nie. "Hy (Gericke) maak dit 'n persoonlike geveg. Dit is ook nie 'n geveg tussen Icosa en die PBI nie. Ek wou bloot 'n debat aan die gang kry. "Adams beskou die saak as afgehandel.
Gericke het by navraag gesê hy gaan geen kommentaar lewer nie. Hy het bygevoeg: "Die saak is afgehandel. Dit is klaar deur die demokratiese prosesse."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'