GEORGE NUUS - Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand, wat voorsiening maak dat Suid-Afrika op 'n aangepaste vlak 2 van nasionale inperking is, het 'n impak op politieke partye se verkiesingsveldtogte vir die verkiesing van nuwe plaaslike owerhede op 27 Oktober.
Die boodskap van verteenwoordigers van politieke partye is egter dat hulle aanpassings maak en dit dwing hulle nie van koers nie.
Een van die regulasies waarvan politieke partye beslis kennis geneem het is dat ingevolge die aankondiging alle saamtrekke beperk word tot 100 mense binnenshuis en 250 mense buite. Dit sluit politieke saamtrekke in.
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het Maandag gesê in lyn met die party se provinsiale en federale strukture, is innoverende meganismes reeds gekry om die partyveldtog op koers te hou en om met kiesers interaksies te kan hê.
Gegewe dat die DA se fokus nou op die OVK-registrasienaweek van 17en 18 Julie is, word kiesers herinner aan die belangrikheid om te registreer en te herregistreer indien hulle sedert 2016 getrek het.
Johan du Toit van die ACDP het gesê die nuwe vlak gaan verseker die party se veldtog raak. "Ons kan nie so vryelik beweeg soos ons moet nie."
Volgens hom hou die ACDP direkte kontak met die kiesers deur WhatsApp-boodskappe. Wat hom betref is dit eintlik 'n gelykmaker. "Al die partye is nou in dieselfde bootjie."
Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het gesê die beperking op die getal mense is 'n tydelike ongemaklikheid. Wanneer daar uitbeweeg word uit die derde vlaag en mense ingeënt is sal dit moontlik wees om weer groter byeenkomste te hou.
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse VF Plus-leier, het gesê dit het 'n impak, maar die party pas aan. "Ons pas ons strategie 'n bietjie aan. Dit sal nie die VF Plus van koers bring nie. Ons het reeds aangepas want Covid-19 is al meer as 'n jaar met ons. Ons gebruik die internet en sosiale media om ons boodskap oor te dra."
Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die EFF, het gesê die derde vlaag en die inperking het beslis 'n invloed. Dit raak byvoorbeeld die party se deur tot deur werwing. "Dis 'n groot uitdaging om in sulke omstandighede veldtogte te voer." Die EFF glo steeds die verkiesing moet uitgestel word.
Nonawethu Jantjies Gushman van die ANC het gesê dit raak nie die party se verkiesingsveldtog nie. Op die oomblik is die proses aan die gang wat voorsiening maak vir die nominasie van kandidate.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'