GEORGE NUUS - Die munisipale verkiesing op 4 November moet reeds die fondament lê vir 'n nuwe regering wat ná die 2029-nasionale verkiesing tot stand kan kom. Dit was die boodskap van dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, Woensdagaand (8 Julie) tydens 'n openbare vergadering in George.
Mulder besoek tans die Tuinroete as deel van die party se "Dit is ons tyd"-veldtog.
Tydens die geleentheid, wat deur sowat 100 mense bygewoon is, is ook bekend gemaak dat adv. Gert van Niekerk die VF Plus se burgemeesterskandidaat vir George in die munisipale verkiesing sal wees.
Van Niekerk is tans die onderburgemeester van George ingevolge 'n koalisieooreenkoms tussen die VF Plus, die DA en die ACDP.
Die vergadering is bygewoon deur verskeie VF Plus-leiers in die streek, asook Grant Marais, lid van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement.
Gert Niehaus, senior VF Plus lid en burgemeesterskomiteelid van George stadsraad, adv Gert van Niekerk, onderburgemeester van George, dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, en Wessel van Heerden, VF Plus aspirant kandidaat, Woensdagaand.
Foto: Eugene Gunning
Mulder het gesê hy reis landswyd en dit is duidelik dat mense sê: "Genoeg is genoeg." Hulle is moeg vir korrupsie en verval.
Volgens Mulder beskou hy homself as 'n optimis. Dit mag dalk donker lyk weens alles wat verkeerd is, maar hy glo werklik dat Suid-Afrika op die punt staan van wonderlike verandering wat die land in 'n positiewe rigting gaan stuur.
Hy is oortuig dat die ANC op 'n afwaartse trajek is. "Dis 'n vliegtuig wat duik en nie omgedraai gaan word nie. Die ANC is 'n vliegtuig wat op pad grond toe is."
Dit beteken, volgens hom, dat 'n nuwe regering in 2029 tot stand gaan kom. Die munisipale verkiesing later vanjaar is die begin van die lê van daardie fondamente. Sodoende kan beheer oor dorpe en metro's reeds verkry word en kan daar op grondvlak begin word.
Hy glo dat daar in 2029 'n nasionale regering gevorm gaan word deur "goeie mense" in 'n koalisie wat op sekere gemeenskaplike waardes gegrond is. Dit kan reeds nou begin, want "mens eet 'n olifant happie vir happie".
Ná die 2021-munisipale verkiesing is koalisieregerings op verskeie plekke gevorm. In die Wes-Kaap regeer die VF Plus saam met die DA en ander partye in 11 munisipale rade.
Hy voorsien dat daar ná 4 November koalisieregerings reg oor Suid-Afrika sal wees - nie net in die Wes-Kaap nie. Daar sal waarskynlik in elke stadsraad in die Tuinroete en die distrik koalisieregerings wees. Die VF Plus sal deel wees van daardie koalisies. Die party sal koalisies vorm met die "goeie mense" in belang van die inwoners.
Hy vermoed dat daar in die Wes-Kaap koalisieregerings tussen die DA, die PA en die VF Plus tot stand sal kom. Die VF Plus gaan in die middel staan om die orde te handhaaf. "Ek het 'n idee orde gaan nodig wees," het hy gesê.
Die VF Plus sal byvoorbeeld saam met die DA, die IVP en die ACDP werk. Dit is op hierdie stadium onmoontlik om te sê hoe dinge gaan uitspeel, aangesien die verkiesing nog nie plaasgevind het nie.
Op 'n vraag uit die gehoor oor wat sou gebeur indien die VF Plus tussen samewerking met die DA of die PA moet kies, het hy gesê die eerste prys is dat die VF Plus volstrekte meerderhede behaal.
Aanwesiges Woensdagaand by die VF Plus se openbare vergadering in George.
Foto: Eugene Gunning
Die tweede prys is dat, indien koalisies gevorm moet word, dit met die "goeie mense" sal wees. Daar is geen rede waarom die VF Plus byvoorbeeld 'n koalisie met die PA en die ACDP sou vorm net om die DA uit die regering te hou nie. In dié konteks is die VF Plus nie in die besigheid om die DA uit die regering te hou nie.
Mulder het beklemtoon dat die VF Plus nie sy hoop vestig op ander politieke partye se slegte nuus of terugslae nie. "In 'n wedloop kyk jy vorentoe, gefokus op die wenpaal."
Gert van Niekerk, VF Plus se burgemeesterskandidaat
In sy aanvaarding om die VF Plus-vaandel in George te dra, het Van Niekerk die versekering gegee dat George se toekoms veilig sal wees waar die party deel van die bestuur is.
Hy het gesê die munisipale dienslewering in George is goed en, wanneer dit met ander dorpe in die Wes-Kaap en Suid-Afrika vergelyk word, selfs beter. Dit kan egter steeds baie beter wees as wat dit tans is.
Die VF Plus staan vir deursigtige munisipale regeringsprosesse, doeltreffende dienslewering en gelyke geleenthede in die beste belang van George en al sy inwoners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’