Update
GEORGE NUUS - Geselsies op 'n privaat WhatsApp-groep tussen verskeie politieke leiers, wat volgens die deelnemers in 'n ligte trant bedoel was, het sommige individue van plaaslike Khoi-huise warm onder die kraag.
Na 'n vurige debat op sosiale media verlede week, asook Maandag op 'n plaaslike radiostasie, het Khoi-leiers aangedui dat hulle in persoon met die individue wil gesels wat aan die gesprek deelgeneem het.
Stemboodskappe van PBI-raadslid Virgill Gericke, Marius Tarentaal (PBI) en ANC-verteenwoordigers Castro Leholo en Mervin Olivier, is wyd versprei oor sosiale media.
Die gesprek het gehandel oor of hulle die 'Kom vandaan'-geselligheid van die Khoi, Griekwa, Boesman en Nama's op Erfenisdag verlede week gaan bywoon. Die stemgrepe van gesprekke wat versprei is, verwys na die groepering se gebruik van velletjies, kieries en drank.
Die gesprekvoerders is egter verontwaardig dat slegs sekere stemgrepe versprei is, en nie die hele gesprek wat uit feitlik 20 boodskappe bestaan nie. Beide Gericke en Leholo is oortuig dat die bohaai oor die stemopnames polities gedrewe is.
Trudie Jansen, kommunikasiebeampte van die Eden Kulturele-raad, het verlede week in 'n verklaring laat blyk dat die gesprekke as 'n bespotting van die Khoi se menswees beskou word. Jansen het gesê die Khoi vra dieselfde respek as wat hulle aan ander gee. "Moenie ons vertrap en verneder nie. Ons sal ons eer beskerm."
Sy het gesê alle nasies gebruik drank, maar niemand kan die Khoi daarvan beskuldig dat hulle in die publiek 'n dronkskandaal veroorsaak nie.
Ook Brendon Adams, 'n DA-kandidaat vir die tussenverkiesing in Pacaltsdorp in November en 'n plaaslike Khoi-leier, het sy misnoeë uitgespreek.
Lees almal se verklarings in die verband hier
Virgill Gericke Foto: Michelle Pienaar
Siening van enkeles
Intussen het die leier van die Pacaltsdorp Kulturele-raad, Stanley Lamini, hom van die kwessie gedistansieer. "Hierdie is 'n politieke aangeleentheid en ek en ander leiers gaan nie hierby betrokke raak nie. Die raad het nie die besluit geneem om 'n verklaring uit te reik nie, so die verklaring is die siening van individue binne die Eden-raad," het Lamini gesê.
"Die feit dat ek my distansieer van die kwessie beteken nie ek stem saam met die trant van die gesprekke nie, maar ons het eers nodig om 'n vergadering met die betrokkenes te hou voor ons 'n besluit sal neem oor enigiets."
Die leier van die Eden Kulturele Raad, Elroy Baron, het ook bevestig dat hy graag die betrokkenes wil nooi vir 'n gesprek oor die aangeleentheid.
Klik hier vir die media verklarings uitgereik in hierdie verband.
Trudie Jansen Foto: Salette Cloete
'Net 'n grappie'
Gericke, Tarentaal, Olivier en Leholo voer aan dat die gesprekke "grappenderwys" plaasgevind het en geensins bedoel was om mense te verneder of te verkleineer nie. Beide Gericke, Olivier en Leholo het benadruk dat hulle die gesprek in hul persoonlike hoedanigheid gevoer het, en dat hul politieke affiliasie aan die ANC daarmee niks te make het nie. Leholo het gesê dat hy nie sy eie voorvaders sal verneder nie, en dat ook hy in die Khoi-herkoms deel.
Hierdie siening word ook deur ander betrokkenes gedeel.
Stanley Lamini Foto: Michelle Pienaar
Ligte oomblik
Gericke het gesê hy is self 'n afstammeling van die Khoi en dat hy respek het vir die regte en kulture van verskeie volkere. "Waarom word ek uitgesonder terwyl verskeie individue aan die gesprek deelgeneem het? Ek was vir jare 'n alkoholis en het lank daarmee gesukkel. Ek het alle reg om op 'n ligte manier oor kultuur te skerts. Mense moet nie alles demoniseer nie. Laat mense toe om 'n ligte oomblik te geniet," het hy gesê.
Vorige artikel: Khoi die josie in oor gesprek glo hul eer aantas
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'