DISTRIKNUUS - 'n Nuwe waarnemende munisipale bestuurder is Vrydag gedurende 'n raadsvergadering, vir die Oudtshoorn-munisipaliteit verkies.
Walter Hendricks, wat vir meer as twee jaar direkteur van gemeenskapsdienste in Oudtshoorn was, neem nou in Reginald Smith se plek as munisipale bestuurder waar.
Hendricks was ook vir die afgelope vier en 'n half jaar direkteur van gemeenskapsdienste by George-munisipaliteit.
Volgens hom sien hy uit daarna om weer die gemeenskap van Oudtshoorn te dien. "Ek weet talle mense is bewus van die hofsaak waarin ek een van vier beskuldigdes is. Die provinsie het die klag teen ons aanhangig gemaak. Ek wil die gemeenskap verseker dat ek geen geld gesteel het nie.
"Daardie geld is vir die regte goed aangewend. Ek vra ook die gemeenskap om in gedagte te hou dat ek onskuldig is tot die hof my skuldig bevind. Ek kan presies aan die hof verduidelik wat gebeur het en waarheen die geld is.
"Noudat die olifant in die spreekwoordelike vertrek aangespreek is, wil ek byvoeg dat my fokus absoluut dienslewering in die gemeenskap is. Ek ken die mense en ek weet hoe die omstandighede daar is en hoe alles werk, daarom voel ek dat ek die geskikte persoon vir die werk nie."
Hendricks sê hy is van mening dat mense wat betaal vir hul dienste moet kry waarvoor hulle betaal.
"Fondse wat beskikbaar is sal tot voordeel van dié wat daarvoor betaal gebruik word. Ek wil graag 'n skoon en veilige omgewing vir ons inwoners skep."
Hendricks sê as 'n amptenaar van die munisipaliteit is politiek nie sy prioriteit. "Ek is nie hier vir politieke speletjies nie. Ek wil regtig net die gemeenskap dien."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'