GEORGE NUUS - Hy is beslis nie klaar met die politiek en die ACDP nie. Trouens as die ACDP hom nader om in die 2021 munisipale verkiesing weer in wyk 18 te staan, sal hy homself beskikbaar stel.
So het Gert Niehaus, die ACDP-kandidaat, in verlede week se munisipale tussenverkiesing in wyk 18 gesê. Donovan Gultig van die DA het die wyk vir die party behou en gewen. Hy het 953 stemme op hom verenig.
Groot belangstelling het vir die tussenverkiesing geheers. In ACDP-kringe is verwag dat Niehaus die wyk sou wen of minstens 'n beduidende getal stemme sou trek. Hy het voorheen die wyk in die George-stadsraad onder die DA-vaandel verteenwoordig. In verlede week se tussenverkiesing het Niehaus
103 stemme getrek. Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het die tweede meeste stemme, naamlik 221 stemme gekry. Die stempersentasie was 43,27%. Volgens Niehaus is hy uiteraard teleurgesteld in die uitslag, maar hy berus daarin en stap aan. Die party se steun het wel in die wyk gegroei as na die vorige tussenverkiesing gekyk word. Hy het reeds die DA en die VF Plus gekontak en hulle gelukgewens met die uitslag. Niehaus bly by die ACDP. "Hulle verteenwoordig die waardes en beginsels waarvoor ek staan. Ek sal gaan waar die party my wil aanwend."
Hy is glad nie spyt oor die politieke sprong wat hy van die DA na die ACDP gemaak het. "Dit was die beste politieke besluit van my lewe gewees. My hart en verstand praat nou dieselfde taal."
Hy is van voorneme om die ACDP te help in die provinsiale en nasionale verkiesing op 8 Mei. Oor die redes vir sy nederlaag gesels hy nie maklik nie, maar op vrae verwys hy wel na 'n veldtog wat na bewering in die dae voor die tussenverkiesing deur een van die partye teen hom gevoer is.
"Ek het kennis geneem van die beweerde smeerveldtog. Valse bewerings is gemaak. Ek gaan nie die saak verder neem nie. Ek is nou gefokus op 8 Mei en die ACDP se verkiesingsveldtog."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'