GEORGE NUUS - 'n Aantal deurslaggewende dae wag vir George wanneer duisende kiesers gaan besluit wie die stad vir die volgende vyf jaar sal regeer. Spesiale stemme sal Saterdag en Sondag uitgebring word en gewone stemme Maandag.
Groot belangstelling heers vir die verkiesing en die uitslag.
Aanduidings is dat daar teen Dinsdagmiddag, 2 November, 'n goeie aanduiding behoort te wees wie die septer gaan swaai wanneer baie van die stemtellery afgehandel behoort te wees.
As geen politieke party egter 'n volstrekte meerderheid behaal nie, is 'n koalisieregering George se voorland en dan behoort daar eers later duidelikheid te wees wie gaan regeer.
Sou van die kandidate/politieke partye besware indien kan dit ook die finalisering van die uitslag vertraag.
Die DA regeer sedert die 2016 munisipale verkiesing en daar is vrae of die party die meerderheid van die 55 posisies in die stadsraad gaan kry. Daar is 28 wyke en 27 proporsionele posisies.
Hoe lyk dinge hier?
In George neem minstens 20 partye en een onafhanklike kandidaat deel.
Onder hulle is daar die groot partye wat 'n nasionale voetspoor het, maar ook kleiner partye wat in die streek en dorpe hoop om baie stemme te kry.
Ingeligtes het gesê as die sogenaamde kleiner partye net enkele posisies verower, kan dit uiteindelik 'n baie groot rol speel as geen politieke party daarin slaag om 'n volstrekte meerderheid te behaal nie.
Verteenwoordigers van politieke partye was die week optimisties oor hul partye se kanse.
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê alle logistieke en ondersteunende kapasiteite in die DA is in plek vir die verkiesing. Oral waar die DA aan die verkiesing deelneem doen die party dit met die intensie om die meerderheid te behaal. Dit sluit George in.
Piet van der Hoven, verkiesingsbestuurder van die ANC, het gesê die party werk daarna om George te wen. "Ons vra nie vir mense om teen iets te stem nie, maar vir iets."
Piet van der Hoven (ANC)
Adv. Gert van Niekerk, van die VF Plus het gesê hy dink nie een party gaan 'n volstrekte meerderheid behaal nie en 'n koalisieregering sal in die beste belang van George wees.
Hy verwag dat die VF Plus sy groei in George gaan handhaaf en selfs vermeerder.
Gert van Niekerk (VF Plus)
Johan du Toit van die ACDP het gesê hulle is so reg as kan kom vir verkiesingsdag. "Daar is soveel partye wat deelneem en die stemme gaan so verdeel wees dat dit moeilik is om 'n uitslag te voorspel. 'n Samewerkende regering is George se voorland. Die ACDP sal hande vat met partye met dieselfde waardes om 'n sterk plaaslike regering daar te stel," het hy gesê.
Johan du Toit (ACDP)
Donovan Saptoe van die Good-party het gesê hulle is baie positief en verwag 'n gunstige resultaat met verskeie setels in die George-raad: "Good het 'n goeie fondasie gelê en is seker dat mense gaan stem vir verandering."
Donovan Saptoe (Good)
EFF-streeksekretaris Mbulelo Magwala, het gesê hulle party verwag baie goeie ondersteuning van die George-gemeenskap en die Suid-Kaap-streek: "Ons is gereed vir die verkiesingsdag en vra die mense van George om die regte keuse te maak."
Mbulelo Magwala (EFF)
Chantelle Kyd van die Patriotic Alliance, het gesê die plaaslike regeringsverkiesing beloof om beslis die interessantste en mees betwiste te wees met die aantal partye en onafhanklike kandidate wat deelneem om wyksraadslede te wees.
"Die Patriotic Alliance is uiters optimisties dat ons baie goed sal presteer as gevolg van kieserskontak en betrokkenheid met die kiesers, maar ons maak staat op die kiesers om werklik Maandag te gaan stem en dit is waarvoor ons ons pogings besorg het."
Virgill Gericke van die PBI het gesê hulle is slaggereed vir die 2021 plaaslike verkiesing: "Daar is 'n geweldige aptyt vir verandering by die kiesers. Die PBI is baie vriendelik ontvang en alle masjinerie is in plek vir die onderskeie stemdae."
Virgill Gericke (PBI)
Wilbur Harris van Icosa het gesê hulle party is baie opgewonde oor die komende plaaslike regering verkiesing: "Die kiesers is honger vir veranderinge en die verbetering van hulle omstandighede daar waar hulle bly."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'