GEORGE NUUS - Meer as gewone belangstelling heers vir 'n munisipale tussenverkiesing in George.
Die tussenverkiesing in wyk 20 wat oor minder as 'n maand op Woensdag op 17 Julie plaasvind sal die eerste munisipale verkiesing wees waaraan Good sal deelneem.
Ofskoon die uitslag nie die magsbalans in die raad sal raak nie, is daar ook groot belangstelling vir 'n ander rede: Die wyk het kort voor die nasionale en provinsiale verkiesing vakant geraak nadat die dienende wyksraadslid en DA-lid, Mercia Draghoender, onverwags bedank het en by Good aangesluit het. Sy gaan die party se vaandel dra in die tussenverkiesing. Dit is Maandag deur Bazil Petrus, Good se streekkoördineerder, bevestig.
Groter duidelikheid oor partye se kandidate behoort binne die volgende week verkry te word.
Petrus het gesê Good beskou die tussenverkiesing as baie belangrik en het daarom iemand met erva-ring gekies.
"Ons is opgewonde en ons veldtog verloop goed."
Na verwagting sal Patricia de Lille, Good se nasionale leier, 'n draai kom maak in George as deel van die verkiesingsveldtog.
Die DA het Maandag aangedui dat sy vaandel deur Regina Windwaai gedra word. Sy is 'n bekende in die wyk en almal ken haar as Moekie. Op die oomblik werk sy by die George-munisipaliteit.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die DA gaan alles moontlik doen om die wyk te behou.
"Ons verwag 'n taai stryd. Dit gaan nie net oor 'n individu nie. Daar is 'n hoë werkloosheidsyfer in die wyk en daar is misdaad. Dis 'n wyk met sosiale uitdagings en die kandidaat wat wen, sal aandag daaraan moet gee."
Rozain Hansen, DA-veldtogbestuurder vir die tussenverkiesing, het gesê Windwaai het verskeie leiersposisies in die DA beklee. Op die oomblik is sy die ondervoorsitter van die DA-kiesafdelingsbestuur.
As sy wen, sal sy bedank by die munisipaliteit sodat sy voltyds aandag kan gee aan die gemeenskap in die wyk.
"Ons is opgewonde om haar as kandidaat te hê."
Die DA is van voorneme om van sy leiers in te span in die veldtog waaronder Alan Winde, Wes-Kaapse premier.
Piet van der Hoven, ANC-stadsraadslid het gesê Jim Mbuswana gaan die party verteenwoordig.
Hy woon in die wyk en is 'n vorige ANC-stadsraadslid. Die ANC glo hy het 'n goeie kans. In 2016 en 2019 het die ANC baie goed gedoen in die wyk. Hy het wel nie in die 2016-munisipale verkiesing gewen nie, maar naelskraap verloor.
Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die EFF, het gesê Jerome Syfer staan vir die party.
Hy het grootgeword in die wyk en woon steeds daar. Hy is 'n onderwyser. "Hy is bekend in die gemeenskap en 'n baie sterk kandidaat. Ons het 'n goeie kans."
Volgens hom is die wyk onderontwikkel en misdaad is baie hoog.
Virgill Gericke van die PBI het gesê die party gaan beslis staan en sal aanstaande week sy kandidaat se naam bekend maak.
Regina Windwaai, DA-kandidaat. Almal ken haar as Moekie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'