GEORGE NUUS - Met die verlies van drie wyksraadslede in Parkdene (wyk 8), Rosedale (wyk 14) en Pacaltsdorp (wyk 27), is drie tussenverkiesings op pad. Al drie tussenverkiesings gaan op Woensdag 13 Mei plaasvind.
Inwoners kan volgende naweek, op 21 en 22 Maart, by hul onderskeie wyke registreer.
Hierdie drie wyke is tot dusver deur die DA oorheers en die party het geen gras onder hul voete laat groei nie. Hul kandidaat vir wyk 8, Hansie Tarentaal, is reeds einde Februarie bekendgestel.
Hierdie posisie het ontstaan nadat die voormalige wyksraadslid, Dawid Willemse, uit die party bedank het. Beide die voormalige wyksraadslede van Pacaltsdorp, Belrina Cornelius, en Rosedale, Edmund Bussack, het hul DA-lidmaatskap verloor nadat hulle saam met die opposisie teen 'n besluit gestem het om die munisipale bestuurder, Trevor Botha, te skors.
Die DA se verkose kandidaat vir die tussenverkiesing in wyk 27 is Ebrahim (Braam) America, en Moses Williams is hul kandidaat vir wyk 14.
Ebrahim (Braam) America is die DA se kandidaat vir die komende tussenverkiesing in wyk 27, in Pacaltsdorp.
America is reeds vir die afgelope 34 jaar 'n boorling van Pacaltsdorp. Hy is al vir 36 jaar betrokke in politiek en dien vanaf 2012 op die strukture van die DA. America het vroeër posisies soos takvoorsitter en -tesourier beklee, en dien tans as sekretaris op die bestuur van die kiesafdeling. Hy is aktief betrokke by sy gemeenskap en sport. America is tans werksaam by Anco Foods as depotbestuurder.
Moses Williams is welbekend as 'n entrepreneur en vermaaklikheids-kunstenaar. Moses glo hy sal 'n verskil kan maak in Rosedale aangesien hy as jong man self die struwelinge van entrepreneurskap ervaar het.
Sy belangstelling in die politiek is aangewakker deur verskeie gemeenskapsleiers, maar dis sy deelname by DA-kongresse en die passie wat die leiers daar openbaar het wat hom finaal oortuig het om sy gewig agter die party te gooi.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'