GEORGE NUUS - Voormalige DA-wyksraadslid van Conville, Brendon Adams - alombekend as Stamhoof - word deur lede van sy vorige party beskuldig dat hy besig is met 'n slinkse strategie om die bruin kiesers na die PA nader te hark.
Adams is tans 'n lid van die PA party en op pad na die parlement, waar hy in Maart gaan aansluit.
Hy is wel baie aktief op sosiale media en met die tussenverkiesing in New Dawn Park gister, Woensdag 11 Februarie, glo talle dat hy direk 'n hand het in die PA se verkiesingsveldtog wat glo nie altyd so eerbaar is nie.
Op Facebook het 'n groot bom gebars toe dit rugbaar word dat Adams se naam en telefoonnommer gekoppel word aan sowat vyf opslaanhuise wat hy na bewering oor die laaste twee maande by die munisipaliteit as onwettige aanbouings aangemeld het. Die nuutste voorval in Peddie Mullerstraat in Conville het heelwat opskudding veroorsaak.
Blykbaar is Adams ook die eerste een wat, met die dien van 'n munisipale nota aan die oortreders, by is met sy foon om oor die ongelukkige gebeure te rapporteer deur 'n video wat wyd versprei word.
Volgens Adams is hierdie 'n absolute bogspul, en is dit 'n poging van die DA om sy naam in oneer te bring. Hy het reeds 'n kriminele klag teen een van die gemeenskapslede vir naamskending ingedien nadat afdrukke van die munisipale sisteem, met sy naam daarby, op Facebook versprei is.
Adams hou vol dat hy nie die klagtes gemaak het nie, en dat hy slegs een klag - op 20 Mei 2024 - aanhangig gemaak het rakende 'n skeepsvraghouer wat glo vir dwelmhandel gebruik is. "Hulle wil nou daardie voorval gebruik om my vir ander goed verdag te maak," het hy gesê.
"Eintlik het hulle my blootgestel, want nou weet die dwelmhandelaars wie ek is. Dit stel my lewe in gevaar."
Intussen het burgemeester Browen Johnson bevestig dat die saak ondersoek word, maar het byvoeg by dat alles op die oomblik daar-op dui dat Adams wel die vorige klagtes gelê het.
"Die sisteem het oral sy telefoonnommer opgetel. Ons kyk wel na die saak en sal weldra agterkom of ons vermoedens bevestig is," het hy gesê.
"Die punt is, hoe is dit moontlik dat hy presies weet wanneer en waar die beamptes die notices gaan dien? Hy is elke keer daar wanneer dit gebeur. Hierdie is 'n baie slinkse manier om die DA in 'n swak lig te stel binne tussenverkiesings in wyke waar behuising 'n baie groot kwessie is."
Volgens Johnson was dit ook 'n strategie wat gewerk het met die vorige twee tussenverkiesings in wyke 27 en 17.
DA-parlementslid Dirk Wessels het op sy beurt gesê dat alhoewel Adams oral aanlyn verwys na 'n saak wat in 2024 gemaak is, is dit nie die gevalle waarna hulle [DA] verwys nie.
"Ons verwys onder meer na 'n saak wat nou in Februarie oopgemaak is. Daar is ook weeklikse vergaderings oor diensverskaffingskwessies, waar klagtes op gemeenskapsgroepe gedeel word. Daar kan nie konfidensialiteit wees nie. As daar video's voor huise gemaak word is dit dood logies dat dit opgevolg gaan word en dat 'n mens gaan uitvind wie die klagtes gelê het. Dit is wat dit is, daar is nie veel meer daaraan nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’