GEORGE NUUS - Disasters se eerste deelname aan 'n rolbalreeks was geen ramp toe hulle ná die eerste ronde die topplek in die Love 4 Vintage Kommaweer Stoffeerders se Somerliga van die Outeniqua-rolbalklub ingeneem het nie.
Die donderweer, blitse en harde neerslae ten spyt het die spanne vasgebyt en hul beste in die nat toestande gegee.
Die spelers was by tye sopnat, maar hulle het enduit volgehou en die ronde voltooi.
Hierdie goeie plek van Disasters is danksy 'n oortuigende oorwinning oor Conti Granite wat reeds 'n paar reekse agter die blad het.
Nog 'n groentjiespan, Vorster Motors, het die tweede plek met dieselfde hoeveelheid ligapunte ingeneem nadat hulle Matopa Plumbers die loef afgesteek het.
Die Lenteliga se kampioenspan, Kirsten & Tulleken Vervoer (KTV), het soos verwag ook goed weggespring en beklee tans die derde plek. Hulle het teen Fireballs te staan gekom en met die louere weggestap.
Die volgende sewe plekke op die punteleer is deur meer ervare spanne ingeneem, maar dit is nog die begin van die reeks en 'n paar groentjiespanne het duidelik laat blyk dat hulle ingeskryf het om so kompeterend moontlik te wees.
Affluence Capital is nog 'n groentjiespan wat hier voor hul eerste wedstryd afgeneem is. Van links is Marlene Lamprechet, Eileen Oosthuizen, André Lubbe en Ruann Coleman.
Die tweede ronde word vanaand (Donderdag) vanaf 18:00 op die bane van die Outeniqua-rolbalklub gespeel en alle belangstellendes is welkom om dit gratis by te woon.
Die klublede berei ligte etes om die hongerpyne te verdryf en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
Bowling Stones, die mede-hoofborge Love 4 Vintage se spanlede is van links: Riaan en Lauren Burger en Cindy en Fanie de Jager.
Uitslae
- Disasters 15;
- Vorster Motors 15;
- KTV 14;
- Aces High 13;
- Skubbe 12;
- Conti Kitchens 12;
- Butz & Gutz 12;
- Boardware 11;
- Seamans Renault 11;
- Supporters 11;
- Chanel Dog & Cat Parlour 10;
- Bushwackers 10;
- Hot Stuff 10;
- JDL Printing 9;
- Just Property 7;
- Angel's 6;
- Bruwer Reynolds Prokureurs 6;
- Mend a Bath 6;
- The Privates 5;
- Kommaweer Stoffeerders 5;
- Butterbowls 4;
- Affluence Capital 4;
- Ricoh 4;
- Bowling Stones 3;
- 4 Musketeers 3;
- Fireballs 2;
- Matopa Plumbers 1;
- Conti Granite 1.
Span Vorster Motors se manne in hul opsigtelike oranje hemde is van links: Johan Vorster, Michael Melk, Johan May en Tobie Alberts. Foto's: Kobus van Wyk
Wedstrydlys
Disasters t Vorster Motors; KTV t Aces High; Skubbe t Conti Kitchens; Butz & Gutz t Boardware; Seamans Renault t Supporters; Chanel Doggy Parlour t Bushwackers; Hot Stuff t JDL Printing; Just Property t Angel's; Bruwer Reynolds t Mend a Bath; The Privates t Kommaweer Stoffeerders; Butterbowls t Affluence Capital; Ricoh t Bowling Stones; 4 Musketeers t Fireballs; Matopa Plumbers t Conti Granite.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'