NASIONALE NUUS - Jou liefde vir geskiedenis kan jou 'n netjiese bedrag in die sak bring.
Die FAK stel 'n nasionale Afrikaanse geskiedenisolimpiade met goeie kontantpryse bekend.
Dié aanlyntoets vir leerders van gr. 8 tot 12 se klem sal op drie hoofafdelings van die Suid-Afrikaanse geskiedenis val, te wete Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.
Die olimpiade sal uit twee vraestelle bestaan. Minstens 80% moet in die eerste een behaal word om na die tweede ronde deur te dring.
Alle deelnemers sal 'n sertifikaat van deelname ontvang. Almal wat deurdring na die tweede ronde sal ook 'n medalje sowel as 'n erkenningsertifikaat kry.
Die algehele wenner sal R10 000 ryker wees. Die tweede prys is R5 000 en die derde prys R2 500.
Die wenskool (volgens die aantal leerders wat 'n sekere persentasie behaal) sal ook R10 000 en 'n wisseltrofee vir geskiedenis ontvang.
Leerders kan nou al by olimpiade.fak.org.za registreer vir dié toets wat in Augustus geskryf sal word. Die bronne waaruit gewerk moet word, sal later bekendgemaak word. Alle navrae kan aan chrisna@fak.org.za gerig word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'