NASIONALE NUUS - ’n 16-jarige seun het Woensdag 16 Julie in die Ladismith-landdroshof verskyn in verband met die wrede moord op Valerie Enzer (79), wie se liggaam Maandagoggend op die plaas Doringkloof naby Van Wyksdorp gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte in aanhouding en sal hy op 30 Julie weer in die hof verskyn. Hy staan tereg op aanklag van moord, huisroof, verkragting, diefstal en veediefstal. Meer aanklagte kan moontlik volg namate die ondersoek vorder.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die beskuldigde nie 17 jaar oud is, soos aanvanklik berig nie, maar 16. Hy het sy reg op borgtog van die hand gewys en is tans in aanhouding in ’n fasiliteit vir kinders wat met die gereg bots.
’n Lykskouing is op Dinsdag 15 Julie uitgevoer om die presiese oorsaak van dood te bepaal. Die verslag is nog uitstaande en sal deel vorm van die voortgesette ondersoek.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’