NASIONALE NUUS - Verteenwoordigers van AfriForum het gister ’n krans by die Wolraad Woltemade-standbeeld in Milnerton gaan lê om sy heldedaad van 253 jaar gelede te herdenk.
Dié beeld is onlangs van Ou Mutual se gebou in Pinelands na Loxton Heritage Park in Milnerton verskuif, waar dit nou meer toeganklik vir die publiek sal wees en nader aan die plek waar Woltemade tot sy dood gewoon het.
Woltemade se heldedaad is vandag steeds so aangrypend soos 253 jaar gelede.
Op 28 Maart 1773 het die skip De Jonge Thomas, wat van Nederland na Asië onderweg was om daar handel te dryf, in Tafelbaai aangekom. Daar het die skip vir twee maande gewag voordat ’n noordwestelike storm op 31 Mei 1773 veroorsaak het dat die skip se anker begin sleep en teen 1 Junie 1773 strand dit op ’n sandbank.
Sommige matrose asook van die voorraad het uitgespoel, ander matrose het aan wrakstukke vasgeklou en om hulp geroep. Woltemade, wat toe reeds 65 jaar oud was, het eers ’n tou na hulle gegooi, maar dié plan het misluk. Uiteindelik het hy die stormsee met sy perd, Vonk, aangedurf.
Sewe keer het hulle na die wrak geswem en elke keer twee skipbreukelinge veilig terug strand toe gebring. Teen die agtste keer was die oorlewendes al só paniekerig dat hulle hom en sy perd bestorm het om gered te word.
Dit was te veel vir die moeë man en perd, en beide het saam met die groep onder die golwe verdwyn. Woltemade se lyk het op 2 Junie 1773 uitgespoel en hy is in ’n ongemerkte graf begrawe.
“Ons het Wolraad Woltemade se nalatenskap geërf en dit is dus ons plig om dit te bewaar en te beskerm om te dien as voorbeeld vir die volgende geslagte. Ons moet inspirasie put uit sy dade en self, op ons eie manier, ’n positiewe bydra tot die samelewing en vir die toekoms van ons kinders maak,” sê Bernard Pieters, woordvoerder by AfriForum.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is ’n sleutelelement van erfenis in die land, gemeenskappe se waardes.
“Waardes is die draer van elke gemeenskap se erfenis en kultuur. Wanneer waardes verdwyn, verdwyn die hele erfenisskat wat daarmee saamhang, asook uiteindelik die kultuurgemeenskap self. Waardes soos opoffering en onbaatsugtige diens, soos deur Wolraad, moet dien as inspirasie vir vele geslagte wat nog moet kom.”
By die onthulling het Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, gesê Woltemade se verhaal van onbaatsugtige diens en opoffering bly vandag nog relevant. Hy het die gemeenskap geloof vir hul betrokkenheid by die projek en gesê die standbeeld sal meer mense die geleentheid gee om van Woltemade se heldedaad te leer. Hill-Lewis het in Afrikaans afgesluit met “Wolraad is nou tuis”.
Gary van den Berg, voorsitter van die Vriende van Loxton Heritage Park, het beklemtoon dat Woltemade se moed en selfopoffering ’n blywende simbool van diens en dapperheid is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’