MOTOR NUUS - Toyota Gazoo Racing SA, wat ná die 2018-Dakar-veldtydren met die silwerware vir tweede en derde algehele plekke teruggekeer het, verskuif nou die fokus na twee Suid-Afrikaanse kampioenskappe waarin die span sal meeding.
Die span het verlede jaar in die Suid-Afrikaanse Veldtydrenreeks (SACCS) en die nasionale tydrenkampioenskap deelgeneem en vanjaar sal dit meer van dieselfde wees.
"Ons het gewis 'n goeie seisoen in 2017 gehad," sê Glyn Hall, Toyota Gazoo Racing SA spanhoof. "Ons het 2018 danksy twee podiumposisies in die Dakar-veldtydren met 'n knal afgeskop. As Suid-Afrikaanse span is dit egter baie belangrik dat ons op plaaslike bodem ook deelneem. Ons sien daarna uit om al twee kampioenskapseisoene aan die gang te kry."
Wat veldtydrenne betref, sal die span sy splinternuwe en revolusionêre Toyota Hilux inspan met bykans dieselfde spesifikasie as wat in vanjaar se Dakar-veldtydren gebruik is.
"Die Toyota Hilux het hom reeds in die wêreld se moeilikste motorren bewys. Ons is oorgehaal om die voertuig in die 2018-SACCS-seisoen verder te ontwikkel," sê Hall. "Hoewel ons baie tevrede was met ons vertoning in die Dakar-byeenkoms, is daar altyd ruimte vir verbetering. Ons gaan gewis nie vanjaar op ons louere rus nie."
Die Toyota Hilux sal in Klas FIA van die Suid-Afrikaanse Veldtydrenreeks deelneem, wat beteken Suid-Afrikaanse aanhangers sal die Dakar-voertuig plaaslik in aksie kan sien. Daarbenewens sal die Dakar-veteraan Giniel de Villiers, weer agter die stuur van een van die voertuie inskuif.
De Villiers, wat in die 2018-Dakar derde was, sal in 2018 saam met die navigator Rob Howie jaag. Howie is self 'n Dakar-veteraan en het al aan sewe van dié renne deelgeneem. In Januarie vanjaar het hy die navigasiewerk vir die Toyota-jaer Lucio Alvarez (Argentinië) gedoen en hulle het tiende geëindig.
Howie het ook die Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskap as navigator drie keer gewen – in 2012, 2015 en 2016.
De Villiers se spanmaat in die ander voertuig is die gewese tydrenjaer, Henk Lategan. Lategan het sy vakleerlingskap in 2013 in Klas S2000 van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap voltooi. Hy het drie jaar in die Volkswagen-tydrenspan deurgebring en ook aan talle internasionale tydrenne deelgeneem.
Hy het in 2017 na veldrenne oorgeskakel en hom by die Ford-span as die derde jaer aangesluit.
"Dit was 'n steil leerkurwe," beskryf Lategan sy veldrenervaring tot dusver. "Ek is vol vertroue dat ek baie ervaring opgedoen het en ek sien nou uit na die volgende hoofstuk in my renloopbaan."
Lategan se navigator vir 2018 is die oudkampioen Dennis Murphy. Murphy het voorheen saam met die veelvuldige veldrenkampioen Anthony Taylor vir Toyota gejaag. Sy ervaring en kalm geaardheid sal Lategan gewis in sy eerste seisoen as deel van die Toyota Gazoo Racing SA renspan help.
Rob Howie (links) en Giniel de Villiers.
Toyota Gazoo Racing SA word vanjaar in Klas T deur die Horn-broers, Johan en Werner in hul Malelane Toyota-geborgde Hilux verteenwoordig. Die broers het die 2017-kampioenskap ná 'n lang stryd teen die Ford-span gewen en sien daarna uit om hul titel te verdedig.
Toyota word weer deur 'n magdom private jaers verteenwoordig, onder meer die 4x4 Mega World-renspan. Die gewese Klas T-kampioen, Jason Venter, wat saam met Vince van Alleman in die navigatorsitplek sal jaag, skuif vanjaar na die FIA-klas, terwyl sy jonger broer, Dylan, hom by die Klas T-brigade aansluit.
Benewens sy deelname aan die plaaslike veldtydrenreeks sal die Toyota Gazoo Racing SA renspan vanjaar as deel van sy voorbereiding op die 2019-Dakar-ren ook aan 'n aantal internasionale renne deelneem. Besonderhede daaroor sal later aangekondig word.
Aan die plaaslike front word die Toyota Gazoo Racing SA renspan vanjaar ook weer in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap deur die veelvuldige kampioen Guy Botterill, en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, verteenwoordig. Dié twee het hul klas R2-Toyota Etios in 2017 tot 'n derde agtereenvolgende kampioenskap gestuur en sal die vlag vanjaar weer vir Toyota laat wapper.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'