MOTOR NUUS - As jy nog nie heeltemal gereed is om die motor vir een van die moderne uiters doeltreffende modelle te ruil nie, is daar gelukkig heelwat wat jy self kan doen om beter brandstofekonomie te kry.
Sommige idees is al in hierdie motorblad genoem, maar goeie raad kan seker altyd herhaal word! Dit is ook nie vervelig om vir brandstofekonomie te bestuur nie - beskou dit eerder as 'n uitdaging vir konsentrasie en om 'n veiliger bestuurder te word.
• Versorg jou motor. Laat doen die instandhouding gereeld deur 'n ervare en betroubare werkwinkel wat met die fabrikaat vertroud is. Dit sal verseker dat jou motor in puik toestand bly.
• Maak seker die banddruk is altyd korrek. Lug lek geleidelik uit en die laer banddruk vergroot rolweerstand wat 'n nadelige uitwerking op brandstofverbruik het. Wanneer nuwe bande nodig raak, oorweeg gerus nuwe eko-vriendelike bande wat makliker rol.
• Verander jou bestuursgewoontes. Dit is dikwels moeilik om op die pad onder die spoedgrens te bly en 'n hoër spoed voel soms gemakliker én veilig genoeg. Ry 'n bietjie stadiger as die spoedperk en die brandstofverbruik sal jou waarskynlik aangenaam verras!
• Wees ligter op die pedaal. Vinnige versnelling en hoë revolusies vat aan jou sak. Ry ekonomies deur die ratte vroeër te wissel. Wanneer jy die ideale spoed bereik, lig jou voet effens sodat die spoed presies gehandhaaf word. Let op na hoe swaar jou voet op die petrolpedaal is. Rem vroeër en ligter wanneer dit veilig is. Beplanning is die wagwoord hier.
• Moenie die motor oorlaai nie. Dakrakke en fietse bo-op die motor maak die brandstofverbruik swaarder, veral teen 'n hoër spoed. Haal die rakke af sodra jy dit klaar gebruik het. 'n Aerodinamiese houer op die dak is beter as 'n oop rak. 'n Fietsrak agter op die motor is ook beter, want dit dra nie soveel by tot windweerstand nie.
• Lugversorging gebruik energie van die enjin. By moderne motors is dit minder, maar by 'n ouer motor kan dit 'n groot rol op brandstofverbruik speel. In 'n warm klimaat is dit belangrik, maar stel dit laer of skakel af wanneer die motor koel is.
• Beplan reise. Ry op die beste tyd om verkeer en besige tye te vermy. 'n Eweredige spoed eerder as stop-en-ry is meer ekonomies. Dit is ook soms moontlik om 'n meer ekonomiese roete uit te werk.
• Weet waarheen jy gaan. As jy verdwaal en rondry, kos dit geld.
• Sit dit af! Wanneer jy lank moet wag, skakel die enjin af - soos by padwerke. Moderne motors het 'n outomatiese meganisme hiervoor - maar dis iets wat jy self ook kan doen!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'