MOTORING NUUS - Dit lyk asof Suzuki net een rigting ken en dit is boontoe. Suzuki Auto Suid-Afrika het pas aangekondig dat hy die eerste keer sedert sy vestiging in 2008 deur die 1 000-verkoopsyfer gebreek en 'n nuwe algehele verkoopsrekord opgestel het.
Die nuwe rekord van 1 004 verkoopte eenhede volg kort op die hakke van 'n vorige rekord van 744 eenhede in Julie 2017. Deur die vorige rekord met 34% te klop, het Suzuki hom ook gevestig in 'n heel nuwe kategorie as een van die medium-groot handelsname in Suid-Afrika.
Die verkoopsrekord het Suzuki boonop in staat gestel om 'n ander mylpaal te oorskry, dié van 50 000 eienaars.
"Ons het nou ons eie interne verkoopsteikens verbygesteek en ook ons 50 000ste koper verwelkom. Om altesaam 50 000 voertuie in minder as 10 jaar te verkoop, is 'n yslike mylpaal vir enige handelsnaam.
"Ons sê in die besonder dankie aan ons Suzuki-handelaars en die personeel by ons hoofkantoor vir hul harde werk," sê André Venter, afdelingshoof van verkope en bemarking vir Suzuki Auto.
Die Suzuki Swift was aan die voorpunt van Suzuki se goeie verkoopsmaand met 350 eenhede.
Die Celerio, beskou deur Cars.co.za en CAR Magazine as die top intreevlak-voertuig vir 2017, het 177 nuwe eienaars gekry en daar is 144 eenhede van die jongste aanbieding, Ignis, verkoop.
Vroeër vanjaar het verskeie media-groepe Suzuki se verwagte sukses in 2017 voorspel. By WesBank en Cars.co.za se verbruikerstoekennings het die paneel van beoordelaars die terugvoering van duisende motoriste in ag geneem toe Suzuki gekies is as hul "Handelsnaam van die Jaar".
Car Magazine het op sy beurt die handelsmerk aangewys as die een om dop te hou vir 2017.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'