GEORGE NUUS - Die jaarlikse Toy Run-liefdadigheidsgeleentheid was vanjaar weer 'n reusesukses met honderde ysterperde wat op Sondag 23 November deur die strate van George gebrul het.
Dié geleentheid bied motorfietsryers en ook die breër gemeenskap 'n kans om speelgoed en noodsaaklike items in te samel vir kinderhuise, sopkombuise, gemeenskapsorganisasies en minderbevoorregte kinders.
Anthony van Tonder, 'n lid van die Memorable Order of Tin Hats (Moth), en huidige voorsitter dié organisasie se motorfietsvereniging, sê die Toy Run het sy ontstaan in die VSA, waar die idee begin het vir motorfietsklubs om speelgoed vir minder- bevoorregte kinders in te samel.
"Dit het later na Australië versprei en is uiteindelik deur die Italiaanse Motorfietsklub van Suid-Afrika hierheen gebring," verduidelik hy.
Die Toy Run het sedertdien ontwikkel tot 'n volledig geregistreerde nie-winsgewende organisasie.
Speelgoed is vir verskeie organisasies ingesamel.
Van Tonder vertel dat hy sy eerste Toy Run in 1982 gedoen het. "Ek het dit ongelooflik geniet. Daardie gevoel van samehorigheid en om deel te wees van 'n liefdadigheidsinisiatief."
Volgens Van Tonder is daar goeie samewerking tussen die Moth-motorfietsvereniging, die Moths en verskeie van George se diensklubs.
"Van die begin af het ons besluit dit móét 'n familiegeleentheid wees. Daar is geen toegangsgeld nie en deelname is gratis. Ons slagspreuke sê dit die beste: 'Almal van alle ouderdomme en ons motorfietsgemeenskap is welkom', 'kom per motorfiets, kom per motor of kom per bus', 'bring net speelgoed'."
Die massarit het om 10:15 vanaf Checkers in Yorkstraat weggespring. Die roete het om die sirkel gedraai, deur Courtneystraat en Knysnaweg beweeg tot by die aflaaipunt by die George Moth Shellhole in Rijk Tulbachstraat.
Dáár is gesorg vir verversings, springkastele en vermaak vir kinders, drie groot tentafdakke met tafels en stoele, musiek, kos- en stalletjies, 'n gesellige kuierarea, en volgens Van Tonder, "die koudste bier in die hele Tuinroete!"
"Ons is werklik geseënd met 'n toegewyde span," sê hy. "Dit was 'n voorreg om die geleentheid te kon reël."
Lynette Nicholas, Tillie Nel en Andrea Rothner van die Eden Lions spog met sakke vol speelgoed wat ingesamel is.
Lede van die Moth-motorfietsvereniging het die geleentheid ondersteun. Foto: Deidre Cloete‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’