GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-speurdiens ondersoek ’n saak van poging tot moord ná ’n voorval op 9 Januarie waartydens die beskuldigde, Johnny Johnson (56), met ’n motor oor ’n ander man gery het.
Volgens inligting ontvang, is die slagoffer, Joswil Johnson, met gebreekte heupe, bene en ribbebene in die hospitaal opgeneem, waar hy steeds aansterk.
Die voorval het omstreeks 13:30 in Shortstraat, Pacaltsdorp, plaasgevind.
George Herald het ’n video-opname ontvang wat wys hoe ’n woedende vrou in die straat voor ’n grys motor staan en op die insittendes skree dat sy haar R50 wil terughê. Dit lyk asof daar twee mans in die motor is. Die vrou begin die enjinkap van die motor met ’n voorwerp wat soos ’n koeldrankblikkie lyk slaan tot die inhoud in die lug begin spat.
Intussen verskyn Joswil Johnson, volgens inligting glo haar kêrel, op die toneel en leun teen die enjinkap met sy rug na die insittendes. Die bestuurder begin dan vorentoe ry, waarna Johnson sy balans verloor en onder die motor beland. Die bestuurder hou nie stil nie en die slagoffer word ’n hele ent onder die motor saamgesleep voordat die linkeragterwiel oor hom gaan en hy in ’n bondel in die straat bly lê.
Die identiteit van die vrou is nie aan George Herald bekend nie.
Johnson is nie lank na die voorval nie in hegtenis geneem. Die koerant het verneem dat ’n aanvanklike klag van roekelose en nalatige bestuur na poging tot moord verander is.
Volgens adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die beskuldigde kort na sy arrestasie in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Hy het weer op Maandag 25 Januarie voorgekom en die saak is uitgestel tot 25 Februarie.
George Herald het by die departement van gesondheid navraag gedoen oor Johnson se toestand, maar nog geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’