GEORGE NUUS - Die verwoestende winde in George en omliggende gebiede Maandag 11 Mei, het die streek in chaos gedompel, met verskeie ernstige voorvalle wat lewens geëis het en mense ernstig beseer het.
'n Man van Pacaltsdorp sterk in die hospitaal aan nadat hy Maandag ernstig beseer is toe 'n muur tydens die stormwinde in George by sy werksplek op hom geval het.
Na verneem word was hy op pad terug in die gebou in toe die muur omgewaai het. Hy het beserings aan sy gesig en verskeie frakture opgedoen.
In 'n afsonderlike voorval het 'n werknemer van Fancourt, Gail Crause (63), Maandag gesterf nadat 'n boom op haar geval het. Die polisie het 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Crause, wat vir meer as 20 jaar by Fancourt in hulle krediteure-afdeling gewerk het, het volgens die polisie haar voertuig parkeer en teruggestap na haar kantoor toe die boom op haar geval het.
Sy het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
In Thembalethu is 'n man ook beseer toe 'n groot padteken op die brug oor die N2 in die sterk wind omgewaai en op hom geval het. Ander voetgangers wat onderweg werk toe was, het hom te hulp gesnel.
Die beseerde man is hospitaal toe geneem.
'n Man het verlede Saterdag, 9 Mei, in die vloedwaters by Klaarstroom, aan die voet van die Swartberge, verdrink toe hy deur 'n rivier meegesleur is. Sy liggaam is Maandag in Meiringspoort gevind.
• Verlede Woensdag, 6 Mei, in Knysna, het Lauren Fredericks (37) gesterf nadat 'n boom tydens stormweer bo-op haar motor geval het. Fredericks, 'n maatskaplike hulpwerker, se motor was in die hoofstraat parkeer toe die ongeluk gebeur het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’