GEORGE NUUS - Werkers van Distriliq in Steinhoff Industrial Park staan tans voor toe hekke by die ingang van dié besigheidskompleks.
Sowat 50 werkers het die opsie gehad om vanaf 09:00 vanoggend aan ‘n wettige staking deel te neem, maar moes eers ‘n paar ure voor die tyd by die werksplek inklok.
"Van ons ouens begin al 06:00 en 07:00 werk, en ons sou eers moontlik vanaf 09:00 begin staak,” het Gift Magani, een van die unieverteenwoordigers gesê.
Volgens Dale Fish van die unie Ichawu (Independent Commercial Hospitality and Allied Workers Union) het die bestuur van Distriliq te vroeg gereageer deur die werkers toegang te verbied. “They jumped the gun,” het Fish gesê.
Hy het verduidelik dat werkers nog kon besluit of hulle aan die betoging wil deelneem of nie, en vir hoe lank hulle wil betoog. “Die ouens kon besluit het hulle wil dalk net oor die middaguur betoog en eerder verder werk, maar hulle is nou daardie keuse ontneem.”
George Herald wag steeds vir terugvoer van Distriliq se bestuur. Hulle was blykbaar vroeër vanoggend in ‘n vergadering.
Die werkers is onder meer ontevrede omdat hulle glo vir die afgelope sewe jaar net die minimum loon verhogings ontvang; geen pensioenfonds het nie en ook nie oor Desember ‘n afskeidspartydjie of bonus ontvang nie. Hulle is onder meer drywers, agterryers en pakhuistoesighouers vir die maatskappy.
Volgens Fish word soortgelyke werkers in ander besighede binne dieselfde bedryf, sowel as ander franchises van Distriliq in ander dorpe, beter na omgesien, met ‘n hoër salaris en beter werksvoordele.
Sowat 50 werkers van Distriliq wat die werksplek verbied is.
Dit is onseker of werkers van Distriliq in George enigsins met hul staking sal voortgaan vandag. “Op die oomblik wag ons vir terugvoer van die bestuur oor die ongepaste uitsluiting van die werkers voor die moontlike staking,” het Fish gesê.
Luidens ‘n epos wat Fish vanoggend aan die bestuur geskryf het, was die werkers van plan om aan ‘n etensuur protes deel te neem, alhoewel hulle die reg het tot ‘n wettige voldag staking met aanvang 09:00 vanoggend.
Fish is van plan om die saak na die arbeidshof te neem indien die werkgewers toegang tot die perseel verder weier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’