GEORGE NUUS - September is Internasionale Alzheimer's Bewusmakingsmaand.
Adasa (Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa) is ‘n nie-winsgewende maatskappy wat in 1985 gestig is en deur ‘n raad van direkteure bestuur word.
Adasa is die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van Alzheimer's Disease International en is daartoe verbind om die lewenskwaliteit van persone met demensie en diegene wat daardeur geraak word, te verbeter.
Adasa streef daarna om in belang van persone met demensie op te tree en hulle, asook hul versorgers, te ondersteun.
Daar is Adasa-kantore in al die provinsies van ons land, wat ondersteuningsdienste en -groepe, bewusmaking en opleiding van versorgers behartig.
As deel van ‘n internasionale veldtog om bewustheid vir mense wat met Alzheimer of demensie saamleef te bevorder, word ‘n spesiale dag jaarliks hieraan gewy op 21 September.
Gedurende die maand van September loods 'n begrafnismaatskappy verskeie gemeenskapsprojekte, asook ‘n kompetisie ten bate van Adasa. Die projekte beoog om die publiek te betrek by bewusmaking van die gevreesde siekte.
Op Maandag 25 September, net ná Erfenisdag, word 'n bewusmakingsgeleentheid vanaf 10:00 tot 14:00 by die Tuinroete Botaniese Tuin in George gehou met die tema "Memories Matter". Deelnemers sal ook die 2 km-lange Mushroom Meander kan stap.
Donasies van R20 per volwassene en kinders 12 jaar en ouer ten bate van Adasa is betaalbaar by registrasie.
Kinders onder 12 jaar stap gratis saam.
Piekniek
Kom geniet ‘n familie-piekniek en ondersteun die mark in die pragtige tuin. Indien jy ‘n geliefde het wat tans aan Alzheimer se siekte of demensie ly, of reeds gesterf het, wil ons jou nooi om ‘n foto saam te bring vir ons gedenkmuur. Almal is welkom.
Vroetelprojekte, waar vroetelvoorskote, -kussings asook vroetelmoue vir mense wat met Alzheimers en demensie saamleef gemaak word, skop af op 21 September.
Lyers van hierdie siektes vroetel en trek voortdurend aan hul klere, komberse en kussings en is geneig om hulself seer te maak indien hulle niks het om hulle mee besig te hou nie.
Die vroetelvoorskote het verskeie interesssante vroetelitems daarop vasgewerk wat gebruik word om ‘n persoon besig te hou in tye wanneer hulle deurmekaar, angstig of net stil is.
Daar gaan ‘n prys wees vir die beste drie items in elke kategorie, wat ‘n naweek vir twee persone in Witsand insluit.
Die voorskote/kussings/moue wat ingesamel is, gaan aan die plaaslike tehuise/versorgingsoorde wat met Alzheimer’s en demensielyers werk, geskenk word.
Die sluitingsdatum is 31 Januarie 2024. Tien finaliste gaan gekies word in elke kategorie wat in Februarie 2024 hul handewerk gaan vertoon by ‘n modeparade waartydens die wenners aangekondig sal word.
Items om te skenk
Die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die maak van die items en kan ook die volgende benodigdhede skenk wat aangewend sal word vir die projek:
• Materiaal
• Wol
• Groot knope
• Ritssluiters
• Skoenveters
• Toutjies
• Linte
• Velcro
• Bubble wrap
• Vilt
• Klein sagte speelding
• Gespes (buckles)
• Dik haarrekkies
• Mopoortreksel (Floorwiz)
• Sleutelhouers
• Krale
Afsetpunte
Sonja Smith Begrafnisgroep se kantore kan gebruik word as afset- en ontvangspunte van hierdie items: CJ Langenhovenstraat 23, Dormehlsdrift, George (044 110 0020 of 064 750 6125) of Soetdoringstraat 32, Heiderand, Mosselbaai (044 110 0021 of 064 750 6127).
Vir meer inligting, inskrywingsvorms, asook die reëls van die kompetisie, kontak Christelle (christelle@ssfg.co.za).
Vir meer inligting oor Adasa, kontak Hettie Theron (082 699 7600 of hettie.theron@adasa.org.za).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’