Update
GEORGE NUUS - Saterdag 29 November se weer het ongelukkig nie toegelaat dat die kinders tydens vanjaar se Santa Flight kon vlieg nie, maar dit het geensins die gees by die Flight Training College by George-lughawe gedemp nie.
Die atmosfeer het gedruis van opgewondenheid toe die jaarlikse Santa Flight weereens ware Kersfeesvreugde na sowat 100 kinders van verskeie skole in die omgewing gebring het.
Die byeenkoms, nou in sy 13de jaar, is deur verskeie van George se diensorganisasies soos die George Round Table, die Rotary-klub, Tangent, Eden Lions, George Lions, Die Vryburgers en die Outeniqua MOTH Shellhole aangebied en het 'n onvergeetlike dag opgelewer.
Die oggend het met groot opwinding afgeskop toe die kinders in blitsvinnige voertuie saam gery het, asook op motorfietse, verskaf deur BMW Motorrad George. Daarna het hulle hul gate uit geniet op springkastele, verfbal geskiet en geskenkpakkies en pannekoeke ontvang.
"Die doel is om hierdie kinders te motiveer om in hulself en hul toekoms te glo. Ons wil vir hulle wys wat deur spanwerk bereik kan word, en dat goeie dade beloon word," sê Jaco Hanekom, voorsitter van die gesamentlike diensorganisasies.
"Ons dryfkrag is ons passie vir die kinders. Ons beloning is die glimlaggies, die verbasing en die vreugde wat hulle so spontaan wys."
Hanekom voeg by dat hoewel die diensorganisasies die dag reël, dit nie moontlik sou wees sonder die breër gemeenskap se ondersteuning nie.
Wat die toekoms van die Santa Flight betref, sê Hanekom hulle is vasberade: "Die grootste uitdaging elke jaar is die koste, maar die diensklubs van George kry dit altyd reg. Santa Flight is hier om te bly. Solank ons die ondersteuning het, sal ons aangaan!"
Die oggend het afgeskop met 'n rit op 'n blitsvinnige BMW-motorfiets.
Die kinders het om die beurt die kans gekry om ’n luukse BMW-motor te ervaar.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’