GEORGE NUUS - Drie raadslede staar tugaksie in die gesig, terwyl twee vry daarvan afgekom het weens 'n gebrek aan bewyse. Met verlede week se raadsvergadering op Donderdag 31 Julie is tyd afgestaan om oor die gedrag van vyf lede van die raad te besin.
'n Spesiale komitee van die raad is gestig om Thembinkosi Lento van die ANC te ondersoek. Die klagtes teen hom hou glo verband met sy beweerde wanoptrede tydens 'n geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering (IDP) in Thembalethu vroeër vanjaar. Sy optrede word geïnterpreteer as inmenging met munisipale administrasie, wat stryk teen die gedragskode vir raadslede.
Volgens 'n persverklaring van raadslid Rosa Louw van Good aan die media, het Lento net opgetree volgens sy mandaat, en sy wyk verteenwoordig as 'n raadslid, soos wat van hom verwag word.
ANC-raadslid Siphelo Manxele stap nou dieselfde paadjie, nadat hy glo by twee geleenthede ontwrigtend opgetree het tydens geïntegreerde ontwikkelings-planvergaderings in Thembalethu. Die klagtes is deur die adjunkdirekteur van strategiese groei en ontwikkeling, Kosie Haarhoff, ingedien.
Siphelo Manxele, ANC
Thembinkosi Lento, ANC
EFF-raadslid Deon Leminie, en ANC-raadslid Vulindlela Mruqhli, is ondersoek vir beweerde wangedrag in die raad. Hulle is beide deur speaker Sean Snyman aangekla.
Ofskoon Leminie tugaksie in die gesig staar, word Mruqhli se saak nie verder gevoer nie, want daar is nie genoegsame bewyse nie.
In Snyman se beskrywing van die gebeure verduidelik hy dat Mruqhli ingetree het om te keer dat wets-toepassingsbeamptes Leminie van die raadsaal verwyder. Die kameras het weliswaar nie gewerk nie en die bewerings kan dus nie gestaaf word nie.
Deon Leminie, EFF
PA-raadslid Samuel Vorster het, weens 'n gebrek aan bewyse, skotvry afgekom van klagtes deur Maria Greeff van die PBI.
Greeff het beweer dat Vorster nie na behore teenoor haar opgetree het nie, en onder die invloed van drank was. Vorster het dit ontken.
Samuel Vorster, PA
Vulindlela Mruqhli, ANC
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’