Gallery
GEORGE NUUS - 'n Onooglike rommelhoop wat vir jare kerkgangers van die AGS kerk in Pacaltsdorp, sowel as inwoners, gepla het, is met die hulp van George-munisipaliteit verwyder.
Motorbande is om die area gepak in 'n poging om toekomstige stortings te voorkom. Die boodskap "STOP DUMPI" is op 'n grondhoop aangebring.
Volgens pastoor Allen Spies, leraar van die kerk, het die probleem al 'n aanloop van 18 jaar. "Ons is dankbaar vir wat gebeur het, maar dit was 'n baie lang tyd om te wag. Te lank," het Spies gesê.
"My kommer is dat die storting weer sal begin. Ek hoop dat wetstoepassing die area sal polisieer. Mens is nie seker of hulle die kapasiteit het om toe te sien dat dit nie weer sal gebeur nie. Daar is nou 'n bordjie op die padreserwe, wat behoort aan die munisipaliteit, wat vra dat mense nie onwettig vullis stort nie."
FOTOGALERY: Rommelhoop verwyder
Spies hoop van harte dat die publiek ook hul bydrae sal lewer om die area skoon te hou. Mense is lief daarvoor om veral hul tuinvullis in areas op die padreserwes in Pacaltsdorp te stort. Munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, het gesê die publiek kan nie verwag dat wetstoepassing altyd oral is nie. "Ons maak sterk staat op openbare verslagdoening," het sy gesê. "Vullisstorting is onwettig en groen sakke word voorsien vir tuinvullis."
Senior munisipale kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, het gesê die munisipaliteit maak onwettige stortings-terreine op 'n weeklikse basis skoon, met goeie resultate:
"In die 2021/2022 finansiële jaar het die munisipaliteit EPWP-werkers en spanleiers aangestel. Hulle het deur innovasie onwettige stortingsterreine omskep. Daar is verskeie plekke in Thembalethu, Lawaaikamp, Rosemoor en Pacaltsdorp wat verfraai is."
Motorbande is al om die area gepak in 'n poging om toekomstige onwettige stortings te voorkom. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'