GEORGE NUUS - 'n Swart rondloperhond, wat vir meer as 'n jaar tussen Palgrave- en Cradockstraat rondgeloop het, het uiteindelik 'n nuwe tuiste gevind.
Die hond, nou bekend as Coco Chanel, is gereeld gesien waar sy by 'n stopstraat buite 'n huis gelê het, of in die bosse teen 'n muur van 'n ander huis weggekruip het.
Besorgde inwoners het herhaaldelik haar bewegings aangemeld en seker gemaak sy kry kos terwyl pogings aangewend is om haar veilig te vang.
Ná verskeie onsuksesvolle pogings is Coco vroeër vanjaar, met die hulp van die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) se inspekteurs, Henrico Pypers en Gerda Groenewald, gered en in die sorg van die DBV geplaas.
Pypers en Groenewald het 'n lokval gestel en met kos, geduld en deeglike beplanning is Coco Chanel veilig gevang en uit die woonbuurt verwyder.
Met haar aankoms by die DBV was sy verskrik en onseker, maar met die nodige liefde en aandag wat sy by die DBV ontvang het, het sy handomkeer verander.
Coco Chanel is op Vrydag 13 Februarie aangeneem en speel deesdae met twee 'sibbe' by haar nuwe huis op die plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’