Gallery
GEORGE NUUS - Die spelers wat die jaarlikse gholfdag van die George Vryburgers Diensorganisasie op Donderdag 31 Julie ondersteun het, moes koue, nat en winderige toestande trotseer en dit was een wat niemand sommer gou sal vergeet nie.
Die bofborge was nog dapperder, want hulle moes vashou aan wat hulle saamgebring het om uit te deel, altyd met 'n warm glimlag.
Daar was baie keelnatmakers, lekker knibbelhappies en oop beursies met die hoop om met 'n lam of kruiwa huis toe te gaan. Die dag is afgesluit met groot pryse.
Bernadine Truter, een van die organiseerders, sê die suksesvolle dag was slegs moontlik danksy goeie leiding en 'n raakvat span wat reg is om in te spring en te help waar nodig. "Ons sê aan elkeen dankie wat saam koud gekry het om die dag 'n sukses te maak."
Die gholfdag is deel van die Vryburgers se fondsinsameling om honger kinders in die plaaslike gemeenskap te kan kos gee.
FOTOGALERY: Vryburgers hou sop-uitreik vir kinders
Wynveiling 2025
Die George-korps het ook op Saterdag 26 Julie saam met Vryburgers Rawsonville 'n baie suksesvolle jaarlikse wynveiling en heerlike osbraai by die Carpe Diem-skoolsaal aangebied.
Die geleentheid was 'n reuse-sukses en danksy die goeie ondersteuning van die gaste, sal die Vryburgers se uitreike na minderbevoorregte kinders 'n verdere hulpstoot kry.
Daniël van Schalkwyk het die veiling behartig.
FOTOGALERY: Suksesvolle gholfdag en wynveiling vir George Vryburgers
Happy Feet
Lede van die korps het op Vrydag 18 Julie besoek gebring aan die Happy Feet-voorskoolsentrum van Life Community Services waar sop en toebroodjies asook ses sakke klere uitgedeel is aan 100 kinders. Hulle het ook kosbare tyd met die kinders spandeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’