GEORGE NUUS - Vreugde en verligting was aan die orde van die dag onder die matrieks van George Sekondêr soos hulle hul uitslae ontvang het.
Hoewel die slaagsyfer van 80,6% in 2021 na 73,1% gesak het, het die skool 'n 100%-slaagsyfer in verskeie vakke behaal waaronder Afrikaans, Engels, rekenaarkunde, verbruikerstudies, dans, drama, musiek en toerisme.
Die skoolhoof, Rodney Cupido, het gesê die skool se slaagpersentasie is laer as wat hulle verwag het, maar uitdagings soos die Covid-pandemie het 'n groot impak gehad.
"Die personeel het hulle uiterste bes gedoen."
Cupdio het die leerders wat hard gewerk het, geprys en almal aangemoedig om hul vaardighede verder te ontwikkel.
Die gr. 12-hoof, Colin Ramas, het beaam dat 2022 'n baie uitdagende jaar vir leerders en onderwysers was. "Leerders het weens die werklading 'n baie druk jaar gehad, maar ons het ons bes gedoen om agterstande in te haal en hulle voor te berei vir die eksamen."
Luandré Laws se ouers, Megan (links) en Chanley Stoffels, en sy suster, Megan Stoffels was by toe hy die goeie nuus gekry het dat hy suksesvol was. Hy gaan vir opleiding as 'n polisieman.
Die top-10-kandidate is:
- Quewin van Heerden
- Johanney Vinnies
- Edwin Windwaai
- Levonia Buys
- Valdene Wildeman
- Marlin Esau
- Jean-Claud Mowers
- Kylie Manus
- Ivanene Las
- Mickaylynn Lewis
Groot opgewondheid het geheers onder dié groepie van George Sekondêr toe hulle hoor hulle is deur. Van links is Terry-Leigh Appels, Nosipho Makay, Jaylee-Ann Stuurman, Lekesha Appels en Jennifer Isaacs.
Jean-Claude Mowers, 7de onder die top-10 van George Sekondêr, sê hy het in al sy vakke goed gevaar, maar is nie so tevrede met sy wiskunde-punt nie. Hy gaan regte aan die Nelson Mandela Universiteit studeer.
Jaydene Kleinbooi (links) en haar vriendin Beyonce Saayman se uitslae het goeie nuus gebring. Jaydene gaan haar verder by die Suid-Kaap Kollege kwalifiseer as 'n bestuursassistent en Beyonce gaan verpleging doen by die Wes-Kaapse verpleegskool. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'