Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kissies en gedenkstene by Victoriabaai waar mense hul geliefdes se as in plaas het 'n lewendige gesprek op sosiale media ontlok.
Ofskoon dit al 'n hele paar jaar aan die suidwestelike kant van die gewilde kusoord naby George plaasvind, lyk dit of dit die afgelope tyd kwaai toegeneem het.
'n Gedenksteen vir die bekende Afrikaanse sanger, Lucas Maree is onder meer daar aangebring.
'n Inwoner van die Suid-Kaap, Carel Marx, het verlede week na die aangeleentheid op die facebook-groep, Georgiete Staan Saam, verwys en dit het gemengde reaksie uitgelok.
Die George Herald het die gebied besoek en dit was opmerklik hoeveel kissies met as, gedenkplaatjies en gedenkstene daar nou is.
Marx het onder meer geskryf, "Jammer by voorbaat as ek iemand te na kom, maar dit is nie my idee nie. Was die naweek by Victoriabaai en was verbaas om te sien hoeveel mense se stoflike oorskot daar op die rotse neergesit is. Ek het al voorheen van die gedenksteentjies daar gesien en nogals gedink dis nice, maar die naweek was ek geskok om te sien hoeveel kissies (met as binne, neem ek aan) daar gelaat is. Dis asof die plekkie nou in amper 'n dumping site vir die tipe ding geword het - hou dit nie 'n gesondheidsrisiko in nie? Wie beheer die tipe ding? Die gedenksteentjies is nice maar sommige word al groter - dit ontaard nou half in 'n kerkhof? Sou dit nie dalk meer gepas wees om net 'n klein gedenksteen toe te laat nie en dalk 'n muur te bou waarbinne die kissies verseël kan word nie?
"Ek vra net? Het skoon ongemaklik gevoel en sou nie eintlik my kinders daar wil laat klouter op die rotse nie. Is daar nie sekere riglyne wat gevolg moet word met die tipe ding nie?
"Moet die stadsraad nie dalk daarna omsien nie? Victoriabaai is immers 'n openbare strand vir ontspanningsgebruik, is dit nie?
"Ek verstaan die sentiment en waarom mense hulle as dalk daar sou wou strooi maar ek dink nie hoe dit nou gedoen word is heeltemaal gepas nie ..."
Mense het verskillend op Marx se inskrywing gereageer. Sommige het met hom saamgestem. Iemand het dit selfs 'n "teer saak" genoem. 'n Ander persoon het geskryf dit lyk mooi.
'n Gedenksteen vir die Afrikaanse sanger, wyle Lucas Maree.
Wat sê die owerhede?
Walter Hendricks, direkteur van gemeenskapsdienste van die George-munisipaliteit, het by navraag gesê as kan enige plek gestrooi/geplaas word, weg van menslike aktiwiteit.
"Die kissies en plaatjies by Victoriabaai is eintlik onwettig, maar die grond behoort aan Garden Route-distriksmunisipaliteit. Dit val nie binne die jurisdiksie van George-munisipaliteit in terme van wetstoepassing nie. Daar is wel op die George-munisipaliteit se kennisgewingsbord by Victoriabaai 'n prentjie wat die kissies verbied."
Dit is toelaatbaar om kissies reg bo-op 'n bestaande, wettige graf te plaas en 'n plaatjie daar aan te bring. Gedenktekens (byvoorbeeld kruise) en plaatjies mag, wat die munisipaliteit betref, slegs in begraafplase aangebring word. Geen plaatjies of ruikers teen bome of kruise langs die pad is wettig nie, ingevolge 'n raadsbesluit. Mense mag wel die as in hul eie tuine plaas. Die distriksmunisipaliteit se gesondheidsafdeling het in antwoord op vrae onder meer gesê ingevolge Regulasie 363 van 2013 is daar geen spesifieke regulasies wat die strooi van as uit 'n gesondheidsoogpunt verbied nie. 'n B-munisipaliteit, soos George, het die reg om sekere verordeninge in te stel om so iets te kan verbied of te reguleer.
Oor die bepalings ten opsigte van die aanbring van gedenktekens en plaatjies kan dit moontlik deur B-munisipaliteite se verordeninge hanteer word. Dit word nie deur Regulasie 363 van 2013 gereguleer nie.
As iemand nie die bepalings nakom nie, sal optrede afhang van die oortreding in terme van die bepaalde wetgewing en boetebepalings van die plaaslike munisipaliteit.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'