GEORGE NUUS - Sesjarige Eben Willemse van George Voorbereidingskool het op 23 Februarie 'n groot mylpaal bereik: Hy is in remissie van Akute Limfoblastiese Leukemie (ALL).
Met sy remissie kon Eben die klok lui by die Rooikruis-kinderhospitaal se onkologie-eenheid in Kaapstad. "Daardie klokgeluid was nie net ’n klok nie, dit was hoop wat hardop weerklink," het sy ma, Elzette Willemse, gesê.
"Eben is ’n lewende wonderwerk en ’n getuienis van God se goedheid. Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor almal wat ons ondersteun het."
Eben is al van die begin van die jaar terug by sy maats in sy Graad R-klas, waar hy lag, speel en leer soos enige ander kind.
“Ons klein vegter kan weer net ’n normale seuntjie wees. Hy is dapper, sterk en ons is ongelooflik trots op hom,” het Elzette gesê.
Met sy remissie kon Eben die klok lui by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad se onkologie-eenheid.
'n Lang pad
Vir die Willemse-gesin is 6 Oktober 2022 ’n datum wat vir altyd in hul harte gegraveer sal wees. "Dit is die dag toe Eben gediagnoseer is met ALL. In een oomblik het ons wêreld stil gaan staan. Die grond het gevoel asof dit onder ons voete wegval," het Elzette gesê.
Vir nege maande moes sy en Eben in Kaapstad bly vir die eerste gedeelte van sy behandeling, terwyl Eben se pa, Johann, vir sy twee broers - Lihan (12) en Jean-Luc (8) - in George gesorg het.
"Dit was die donkerste en mees onseker dae van ons lewens,” het sy gesê. "Ons het dae en nagte in hospitaalkamers deurgebring - chemoterapie, drips, toetse, trane en gefluisterde gebede. Daar was oomblikke toe hoop slegs ’n fluistering was."
Drie jaar van behandeling het gevolg, insluitend gereelde chemoterapie, hospitaalgange en slapelose nagte. "Ons het twee Kersfeeste in die hospitaal deurgebring, en net gewens dat hy gesond is," het Elzette gesê.
"Maar deur elke traan en prosedure het ons ook ongelooflike genade en ondersteuning gevoel - van familie, vriende, dokters, susters en selfs vreemdelinge. Ons wil graag ons familie, vriende en Voories bedank vir al hul onvoorwaardelike ondersteuning gedurende die afgelope drie en 'n half jaar. Julle het elke stap saam met ons gedra."
Eben Willemse se gesin bedank hul familie, vriende en Voories vir al hul onvoorwaardelike ondersteuning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’