GEORGE NUUS - Lede van die Blanco-tak van die Vroue-Landbouvereniging (VLV) en 'n klompie genooide gaste het verlede week die tak se 37ste bestaansjaar gevier met 'n gesellige kuier in die NG Kerk Blanco-gemeente se kerksaal.
Dit is dieselfde plek waar die tak sy ontstaan gehad het op 21 Januarie 1988 onder die aanvoering van die eerste voorsitter, Beckie Meyer.
Hannetjie Langenhoven, taksekretaresse vir die afgelope 32 jaar, het 'n interessante terugblik gegee op die eerste vergadering met die voorlees van die kort notule van daardie vergadering.
Die bekende egpaar, Innes en Greta Benade, was spesiale gaste by die verjaarsdagviering en het lede met twee impromptu sangnommers verras.
Maretha van der Westhuizen, voorsitter van die George-tak en skrywer, het 'n prettige kortverhaal uit een van haar boeke voorgelees voordat almal heerlik kon klets oor 'n bordjie koek en koppie tee. Lydie Terblanche, SWD-sirkelpresident, het ook die geleentheid bygewoon.
Die VLV streef daarna om die kennis en vaardighede van die lede uit te brei en die vroue se potensiaal te bevorder deur interessante en leersame lesings, demonstrasies, uitstallings, vertonings, kompetisies en uitstappies.
Vroue wat belangstel om aan te sluit, kan die voorsitter, Marietjie Schaaff, kontak by 072 618 0515.
Ilze Visagie (regs) was 'n gas by Blanco VLV se partytjie. Hier is sy saam met Hannetjie Langenhoven (sekretaresse) en Alice Burt, 'n baie aktiewe lid op die ouderdom van 80 jaar.
Innes Benade gesels met die lede. Hy was 'n jong kind toe sy ma aangesluit het.
Petro van Niekerk sny die verjaarsdagkoek.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’