GEORGE NUUS - ’n Vermeende onwettige immigrant is laat gisteraand, 7 Augustus, dood toe hy in Wildernis by ’n krans afgeval het in ’n poging om die polisie te ontduik.
Die voorval het omstreeks 23:00 op die N2-snelweg, tussen Wildernis en die uitsigpunt by Dolphin Point, plaasgevind.
Volgens inligting wat George Herald ontvang het was die oorledene, wie se identiteit nog nie bekendgemaak is nie, een van ’n groep mans wat vermoedelik as konstruksiewerkers in die gebied werksaam is.
Hulle woon glo almal in Thembalethu.
Hulle was agterop ’n bakkie van Wildernis na George onderweg toe beamptes van die provinsiale verkeersdepartement die voertuig opgemerk het en van die pad afgetrek het.
Kort daarna het ’n polisievoertuig ook op die toneel gestop. Toe die polisiebeamptes nader beweeg, het die mans skielik van die bakkie afgespring en na die nabygeleë bosse probeer vlug. Een van hulle het oor ’n krans geval en van sy veelvuldige beserings omgekom.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat die George-polisie ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen het. “Tydens die voorval is ’n totaal van 12 ongedokumenteerde mans in hegtenis geneem,” het hy gesê.
Die verdagtes sal in die hof verskyn sodra formele aanklagte teen hulle aanhangig gemaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’