Update
GEORGE NUUS - Tot onlangs het Kobus Honiball (73) nog groot visse uit die see getrek. Dit was groot oomblikke van trots en oorwinning langs die kus.
Maar sy visstok staan nou stil en die see wat vir hom soveel vreugde gebring het, het hom uiteindelik ingeneem.
Honiball (73), ’n bekende en hoogs ervare plaaslike hengelaar, het verdrink nadat hy Woensdag 1 April van rotse naby Heroldsbaai afgespoel is. Sy liggaam is Saterdag 4 April by Swartvlei-strand langs die Sedgefield-kuslyn aangetref.
In ’n WhatsApp-boodskap uit 'n visvanggroep, wat sy dogter Lana Potgieter aan George Herald gestuur het, word daar gepraat van ’n yslike 43 kg-kabeljou wat Honiball onlangs saam met sy vissersvriend, Dieter Maritz, uitgetrek het.
Maritz was saam met Honiball toe hy omstreeks 20:50 van die rotse afgeslaan is. Volgens Potgieter sou hulle aas gaan uithaal het om die volgende dag vis te vang.
“Op 73-jarige ouderdom bly oom Kobus ’n inspirasie. Hy het aan talle nasionale kompetisies regoor Suid-Afrika deelgeneem, jare lank Namibië verteenwoordig en selfs verskeie kere teen Suid-Afrika meegeding. Ten spyte van al sy prestasies, is hierdie kabeljou sy grootste nóg,” lui die boodskap.
Sy vriende het hom as hul “Kaalvoet Namibiër” beskryf en onthou hom as ’n etiese visserman.
Volgens hulle was hy ’n ware ambassadeur vir die sport en het dikwels op sy eie gehengel en oor die jare ontelbare visse teruggesit.
“My hart is stukkend. Oom Kobus was vir die laaste paar jaar my go-to hengelmaat. Hy was eenvoudig net ’n yster. Hy het oral saam met my gestap en vêr afstande saam met my geloop op die strande om vis te vang.
“Die hele tragedie van nou die aand vang my erg. Ek probeer ons goeie tye saam onthou, maar dan oorval die beelde van Woensdagaand my,” sê Maritz.
Maritz was ook saam met Honiball toe hy sy rekord-kabeljou uitgetrek het. “Op hierdie middag einde November 2025 besluit Oom Kobus en ek om weereens te gaan probeer vir groot kabeljou. Sy droom was om so groot kabeljou te vang. Ons het ver gestap by Boggomsbaai, verby Rooiwalle.
“Vroeër die aand vang ek ’n kabeljou van 110 cm (14 kg). Later die aand maak oom Kobus vas met ’n groot vis, aan die manier wat die vis die visstok ruk het ek dadelik geweet dit is ’n groot kabeljou.
“Hy was later moeg en het op sy boude gaan sit om met die vis te baklei. Na omtrent 45 minute het ek die vis in die vlak water gesien. Ons albei se blydskap was onbeskryflik toe ons die groot blinklyf op die strand sien lê.”
Vir Honiball se gesin was die afgelope Paasnaweek een van onsekerheid aangesien hulle weens die vakansiedae tot Dinsdag 7 April moes wag om sy liggaam formeel uit te ken.
Hulle wag ook steeds op bevestiging van die presiese oorsaak van dood, wat met ’n nadoodse ondersoek bepaal sal word.
Potgieter meen haar pa kon moontlik sy kop teen ’n rots gestamp het voordat hy in die water beland het, aangesien hy binne minute verdwyn het.
Honiball het die afgelope ongeveer 14 jaar in Loeriepark in George gewoon.
Kobus Honiball was ’n kranige visserman wat etlike ure langs die viswaters deurgebring het.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’