GEORGE NUUS - Die tragiese tonele, hartseer, trane en skaars glimlagte wat plaaslike fotograaf, Deidre Cloete, sedert Maandag 6 Mei in Victoriastraat met haar kamera vasgevang het, sal haar vir die res van haar lewe bybly.
Vir baie in die sportkringe is Cloete nie 'n vreemde gesig nie, maar dit is ongewoon om haar op 'n misdaadtoneel te sien.
Tóg het haar deursettingsvermoë en passie om die tragiese Victoriastraat-ramp met haar kamera vas te vang, haar daagliks na die toneel. geneem "Ek is nie hiervoor betaal nie, ek het dit vir die reddingswerkers, ons nooddienste, die vrywilligers en almal wat eendag na die tragedie deur my foto's sal kan terugkyk, gedoen," sê Cloete.
Cloete is besig met 'n onbeplande foto-dokumentêr wat sy graag in 'n koffietafel-boek wil omskep. Dit was egter nie die plan nie.
Sy was eers nie bewus van die voorval nie, maar is deur een van die reddingswerkers daarvan in kennis gestel. In daardie stadium was sy besig om 'n nagbergfietswedren te kiek.
"Ek het Maandagaand na 21:00 op die toneel aangekom. In daardie stadium mag ek geen foto's geneem het nie en ek was ook glad nie van plan nie. Ek was hier tot 02:00 die volgende oggend en het almal en alles waargeneem. Ek het hoegenaamd nie 'n behoefte gehad om dit af te neem nie. Ek meen, gewoonlik neem ek sport af en almal glimlag vir my," sê Cloete.
Een van die foto's wat Cloete uitgekies het om haar tyd op die toneel op te som. Gift of the Givers se Mario Ferreira (links) saam met nooddienstepersoneel op die toneel.
Met 'n ongekende passie vir ons reddingswerkers en nooddienstepersoneel en die werk wat hulle doen, het Cloete daagliks terug na die toneel teruggekeer.
"Dis die mense wat ek altyd afneem, hulle is al soos familie en ek dink dis ook vir hulle belangrik. Ek neem die foto's agter die skerms. Ek dokumenteer Victoriastraat."
Lesse geleer
Dit was 'n veeleisende 11 dae vir elke liewe persoon op die toneel. Maar selfs in die donkerste van tye is ons nie te oud om te leer nie.
"Ek het so baie geleer," vertel Cloete. "Een van die lesse wat uitstaan is dat mense mekaar nodig het. Ons lewe nie geïsoleerd nie. Dit was vir my een van die moeilikste en mees emosionele ervarings in my lewe.
"Maar wat vir my wonderlik is, is dat ons [dié op die toneel] nie eers almal mekaar se name geken het nie, en dit maak nie saak nie. Ons het so baie vir mekaar beteken. Hierdie was 'n krisis en ons deursettingsvermoë is getoets.
"Ek het al baie trauma beleef, maar Victoriastraat en die Knysna-brande, sal my vir altyd bybly.
"Die mense is so 'n deel van my lewe en vreemdelinge het vriende geword. Ek glo 'n fotograaf is 'n klankbord vir 'n storie en as jou menseverhoudinge nie reg is nie kan jy nie die storie vertel nie.
"Onder die omstandighede was dit 'n ongelooflike ervaring, en ek wou graag hierdie golf enduit ry. Die moegheid was op almal gesigte. Dit was moeilik vir almal. Niemand het hier 'n titel gehad nie, niemand het 'n status gehad nie. Hier het almal net een doel gehad - ons wou net help."
Cloete se foto's kan op haar Facebook-blad gesien word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’